Genade wat ons soek
“Jou slegste dae is nooit so erg dat jy buite die bereik van God se genade is nie. En jou beste dae is nooit so goed dat jy buite die behoefte aan God se genade is nie.” — Jerry Bridges
>
_”Die Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos.” _ (Lukas 19:10)
Ons dink dikwels ons moet eers vir God vind voordat genade kan begin werk. Die evangelie vertel egter ’n ander storie: God vind óns.
In Jesus sien ons ’n God wat nie eers wag dat mense hulself “regkry” nie. Hy stap na tollenaars, sondaars en gebroke mense toe. Hy gaan soek hulle!
Dit is wat genade doen. Dit bly nie op ’n afstand nie. Dit beweeg na ons toe — selfs wanneer ons voel ons het verdwaal, of wanneer ons skaam is oor die paaie wat ons geloop het.
Paasfees herinner ons dat die Opgestane Christus steeds ’n soekende Here is. Selfs wanneer ons dink ons is ver weg, is Hy reeds op pad na ons toe.
Voel jy dalk ver van God? Herinner jou dan kliphard dat God nie op ‘n afstand bly nie – ten spyte van hoe jy voel.
Here Jesus, dankie dat U my nooit ophou soek nie. Wanneer ek verdwaal of moed verloor, bly U na my toe kom. Help my om my hart oop te maak vir U genade wat my altyd eerste vind. Amen.

