#Ek is … 24 Feb.

“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.” (Ef 2:8)


Kom ons gesels vir ‘n slag oor genade. Vir Paulus is dit so belangrik dat hy oor-en-oor sê redding kom alleen van God af, omdat God “ryk in barmhartigheid (is) en ons innig lief (het)” (Ef 2:4 en 5a). Dis so belangrik dat Paulus drie maal herhaal: “Uit genade is julle gered” (v5b, v7 en 8a). Maar genade druis teen al ons logika in. Soos iemand (in Engels) skryf: “Grace is counter-intuitive.” Soos om nie die straf te ontvang nie (wat ons toekom), en genade aangebied te word (wat ons glad nie toekom nie). Êrens moet daar ‘n vangplek wees, want sê ons dan nie gereeld vir mekaar, as iets te goed klink om waar te wees, dit beslis te goed is. Niks val tog verniet in jou skoot nie. En daarom is dit op geen manier verstaanbaar nie, dat ons almal “Uit sy oorvloed genade op genade ontvang” (Joh. 1:16).

Ek stem met Philip Yancey (die skrywer van “What’s so amazing about grace”) saam dat genade slegs met bakhande ontvang kan word. Per implikasie moet alles wat jy in jou hande vashou laat los word. Die probleem is dat daar so baie dinge is om aan vas te hou in ‘n kultuur van moet-en-wil-hê. Selfgenoegsame mense wat glo “Ek. Kan. Self” sukkel om bakhand te staan en te ontvang. Tog is dit hoe genade werk.

Genade is alleenlik die inisiatief van God. Selfs om te glo is net deur genade alleen moontlik. Dit alles is die werk van die barmhartige God alleen. In die woorde van C.S. Lewis: “Grace is the invasion of God into our lives, not to punish but to heal, redeem, and restore us to true life.”

Wie is ek?
Ek is … self so arm aan genade, maar so milddadig geseën met genade.

GEBED: Genade, onbeskryflik, Here, dit skenk U my!


MUSIEK

In die musiekkeuse vir vandag tree die Britse sanger, Chris Ellis, saam met 200 doedelsakspelers op by die Duitse Taptoe in 2021. Mag die musiek jou ook hoendervleis gee soos dit was toe ek dit die eerste maal geluister het.