Die Gees bou saam-saam

GEESKRAGTIG

19 – Die Gees bou saam-saam (25 Junie)

⁠ 🏋️ Geeskrag: Die Gees is die argitek van ’n lewende huis waarin saam-saam gewoon word. ⁠

Geloof is nie ’n soloprojek nie – dit is ’n bouwerk. Soos Petrus skryf: “Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis.” (1 Pet 2:5) Elke steen, elke pilaar, elke venster het ’n plek en ’n funksie. Só gebruik die Gees jou lewe as deel van ’n groter struktuur. In ’n wêreld van “ek-kan-self” leer Hy ons dat geloof net kan groei wanneer dit ingebou word in gemeenskap.
‘n Vuur kan nie gloeiend warm bly terwyl die kole apart versprei lê nie. Gemeenskap is die Gees se manier om jou geloof warm en lewendig te hou.

👏 Heilige Gees, bou my geloof saam met ander; maak my ’n lewende steen in U huis.

🕰️ AS JY MEER TYD HET:

•⁠ ⁠Lees : Handelinge 2:42–47; 1 Korintiërs 12:12–13; Hebreërs 10:25.
Handelinge 2 wys hoe die eerste gelowiges saam gebid, brood gebreek en alles gedeel het – tekens wat mense van buite soos ’n magneet aangetrek het. Dit is ‘n Bybelse opdrag dat ons die samekoms van gelowiges nie versaak nie – dalk is dit ander wat jou nodig het, of jy hulle! Ons is een liggaam waar niemand vir ’n ander kan sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Gemeenskap is dus nie ’n opsie nie, maar ’n gawe van die Gees – die plek waar jy leer om te dra en gedra te word.
Dink aan Moses wat sy arms moes oplig in gebed – toe hy moeg word, het Aäron en Hur sy arms ondersteun (Eksodus 17:12). Só werk die Gees: Hy gee jou mense wat jou dra wanneer jy swak is, en Hy gebruik jou om ander te dra.

⁠💭  Wie is die gelowiges wat jou ondersteun wanneer jou arms lam word; en wie se arms hou jy vandag weer hoog?    

👉 Môre se vraag: Hoe gee die Gees jou krag teen versoeking?