Die Gees maak jou geloof nuut

GEESKRAGTIG

17 – Die Gees maak jou geloof nuut (23 Junie)

⁠ 🏋️ `Geeskrag: Die Gees is die nuwe seisoen wat daagliks die oue vervang. ⁠

Baie gelowiges wéét dat die Gees vernuwing bring – hulle het dit al gehoor, gelees, selfs aan ander gesê. Maar daar is ’n groot verskil tussen wéét en dit self belééf. Kom ons wees eerlik: geloof kan soms voel soos ’n landskap vasgevang in winter – kaal, koud, voorspelbaar. Die Gees wil jou nie net herinner aan wat jy reeds weet nie (dit ook, ja!); die Gees staan gereed om jou asem weg te slaan! Die Heilige Gees wil die donkerte met reëboogkleur verryk. Nuwe geloofspaadjies kan begin spruit. Dit is nie net kop-kennis nie – dit is ’n daaglikse deelname aan die Gees se werk wat jou geloof laat blom met nuwe lewe.

👏 Heilige Gees, vernuwe my geloof vandag; laat U nuwe seisoen in my hart begin en my hoop weer groen maak.

🕰️ AS JY MEER TYD HET:

•⁠ ⁠Lees : Jesaja 40:31; Klaagliedere 3:22–23; 2 Korintiërs 4:16

Jesaja 40:31 sê: “Maar dié wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vlieg op met vleuels soos die van arende.” Dit is nie ’n abstrakte belofte nie, maar ’n werklikheid om te ervaar – jy word opgetel en gedra. Klaagliedere 3:23 herinner ons dat God se trou elke oggend nuut is. Dit beteken dat vernuwing ingebou is in die ritme van jou lewe, maar jy moet dit toelaat. Paulus skryf in 2 Korintiërs 4:16: “Al vergaan ons uiterlik, innerlik word ons dag vir dag nuut gemaak.” Hier lê die geheim: die Gees werk nie net op groot oomblikke nie, maar in die stille, daaglikse vernuwing van jou innerlike mens. Elke dag herskryf die Gees jou storie – jy is nie meer gister se mens nie, maar ’n nuwe skepping-in-wording.

⁠💭  Waar hou jy nog terug om die by Gees se vernuwing werklik te ervaar, en hoe kan jy jou hart oopmaak om deel te hê daaraan?   

👉 Môre se vraag: Hoe gee die Gees jou kreatiwiteit om jou geloof uit te druk?