Die Gees leer jou om tussen vals en waar te onderskei

GEESKRAGTIG

15 – Die Gees leer jou om tussen vals en waar te onderskei (19 Junie)

🏋️ ⁠ Geeskrag: Die Gees is die lig wat jou help om waarheid van misleiding te onderskei. ⁠

“Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die waarheid lei” (Johannes 16:13). Ons leef in ’n tyd waar soveel stemme mekaar weerspreek en dit moeilik is om vals beloftes te onderskei van wat waar is. Sonder die Gees se leiding kan jy maklik verward raak of selfs mislei word. Die Gees bring helderheid – Hy wys jou die rigting van die ware Weg van Christus: die Weg, die Waarheid en die Lewe.

👏 Heilige Gees, lei my in waarheid; help my om te onderskei tussen wat vals en wat eg is.

🕰️ AS JY MEER TYD HET:

•⁠ ⁠Lees : Johannes 16:13; 1 Johannes 4:1; Hebreërs 5:14.

1 Johannes 4:1 waarsku: “Geliefdes, moenie elke gees glo nie, maar toets die geeste of hulle van God kom, want daar is reeds baie vals profete in die wêreld.” Onderskeiding is ‘n noodsaaklike deel van geloof. Hebreërs 5:14 sê dat volwassenheid beteken jou “sintuie” is geoefen om goed van kwaad te onderskei. Die Gees is die een wat jou sintuie oefen – Hy gee jou innerlike sensitiwiteit om te herken wat eg is en wat net mooi klink. Hy bring jou terug na Christus se woorde, Hy toets alle motiewe, en Hy hou jou geloof suiwer. In ’n wêreld vol onrus en misleiding is die Gees jou lig en jou steun. Soos met enige oefening vra dit toewyding om ‘n gees van onderskeiding in jou sterk te maak.

⁠💭  Waar het jy al   gesien dat vals boodskappe jou geloof wou verwar, en hoe kan jy die Gees toelaat om jou sintuie te oefen in onderskeiding?    

👉 Môre se vraag: Hoe bring die Gees jou vreugde, selfs in moeilike tye?