DIE KUNS VAN WAG: 3

> 📖 – Romeine 8:25: “As ons egter hoop op wat ons nie sien nie, dan wag ons daarvoor met volharding.”

> 💡– Die moeilikste deel van wag is nie die tyd wat verloop nie, maar die houding wat ons kies teenoor dit wat nog onsigbaar is.

Hierdie vers erken die harde realiteit: ons wag dikwels vir dinge wat onsigbaar is – antwoord op gebed, genesing, geregtigheid, of God se wederkoms. Dit is natuurlik om moeg te word vir die wag. Maar, daar is ‘n sleutelwoord om die moegheid te trotseer – Paulus noem dit volharding. Wat ons met “volharding” vertaal, beteken eintlik in Grieks “om onder te bly” ( hupomonē ). Hierdie woord dui op standvastige geduld wat nie ‘n duit sal bes gee nie. Staan sal jy staan!

Heilige Wag is nie niks doen nie. Inteendeel. Hupomonē-wag verander juis passiewe stagnasie na aktiewe volharding (Sien Jakobus 1:3-4). Dit leer jou om jou oë op te lig, weg van die onbevredigende hier-en-nou, na die seker toekoms wat Christus belowe het.

> 🪜– Identifiseer een area van jou lewe waar jy ‘wag-moeg’ is. Kies vandag om daardie wagtyd aan God toe te vertrou en bid vir vars hupomonē (volharding).

> 🙏 Gees van bemoediging, versterk my gees om nie moeg te word in die wag op dit wat ek nie sien nie. Mag my hoop so seker wees dat ek kan aanhou glo selfs al bly die hemel stil.