Al Psalmend (21 Nov)

“Liefde en trou sal mekaar ontmoet, geregtigheid en vrede sal mekaar omhels; trou sal uit die aarde uit opspruit, geregtigheid sal uit die hemel uit afkom.” (Psalm 85:11-12)

———-

Die mense oor wie Psalm 85:1-10 skryf, is bannelinge wat terugkeer na hul land waar slegs verwoesting hulle inwag. Mense wat vandag Psalm 85 bid, is mense wie se lewens ook ontwrig voel. Here, help! Wat die psalm so uniek maak, is dat dit vir ons ‘n prentjie skilder van hoe dit sal lyk wanneer God ons gebede verhoor: dit sal wees asof hemel en aarde in ‘n omhelsing is. Soos hande wat na mekaar uitstrek om vasgehou te word, so sal die vingers inmekaar vleg. Hulle wat soek na die wil van God (m.a.w. geregtigheid) sal die vrede van God ervaar. Vrede, regverdigheid, getrouheid en liefde sal uiteindelik heers.

Oor enkele dae begin ons met Advent; vier Sondae word ‘n nuwe kers aangesteek. Elke kers is ‘n uitdrukking van ons verlange: ons pleit vir vreugde, vrede, hoop en liefde. Kom tog, Here! Op Kersdag word die groot wit kers aangesteek: hemel en aarde het mekaar gevind. Die omhelsing tussen God en mens het gebeur. Besef jy dat dit waarvoor ons bid in Psalm 85:11-12 reeds in vervulling is! Dit is nie meer ‘n pleitgebed wat verhoor moet word nie – ons leef nóú reeds in die werklikheid van die “koninkryk van die hemele” wat onder ons kom woon het.  Daar kom ‘n tyd; die tyd is nou! Algaande al meer!

“Ek sien ‘n nuwe hemel kom; ‘n aarde nuut en vry,” is nie maar net lirieke van ‘n lied wat oor eendag sing nie. Elke dag is daar plekke waar ons hierdie lied om ons sien uitspeel. Oral waar vrede, regverdigheid, getrouheid en liefde geleef word, dáár word God al meer sigbaar.

GEBED: Ek leef in U omhelsing, Here. Maak U al meer sigbaar deur my dade.

MJUSIEK:

Ons luister na die Duitse verwerking van Psalm 85 deur Heinrich Schütz (1585–1672 )„Herr, der du vormals gnädig warst“  uit die “Becker Psalter” na die Psalmliedere deur Cornelius Becker (1561–1604).

Uitgevoer deur die TonArt Halle (Saale) kamerkoor onder leiding van Lukas Zehle.