8. INGESTEL OP GOD SE FREKSENSIE (12 Mei)

GLO SOOS ‘N KIND

 “Eli sê (toe) vir Samuel: ‘Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!’” – 1 Samuel 3:9
———————–
In die tyd van Eli (aldus 1 Sam 1:1) was “die woord van die Here min gehoor (en) daar was nie dikwels openbarings nie.” Dit was nie omdat God opgehou praat het nie, maar omdat die ore van die godsdienstiges doof geword het. Die tragedie van Eli was dat hy die rituele geken het, maar nie meer die Stem nie.

God kies toe nie ‘n teoloog of ‘n profeet om die stilte te verbreek nie, maar ‘n kind wat nog nie geleer het watter stemme om te ignoreer nie. Samuel se krag was nie sy kennis nie, maar sy ontvanklikheid. Hy het nie probeer om God te ontleed nie; hy het bloot gehoor.

Volwasse geloof raak dikwels afgestomp deur die geraas van opinies, tradisies en selfs ons eie gebede. Ons is so besig om vir God te sê wie God moet wees, of wat God moet doen, dat ons nie meer hoor wie God in werklikheid is nie. Samuel leer ons dat geestelike gesag nie begin by praat nie, maar by die radikale dissipline van luister. Om te glo soos ‘n kind, is om die “radio van jou siel” weer in te stel op die frekwensie van die Stil Stem.
———————–
> VIR SELFSTUDIE:
1 Samuel 3:1–10 — Die kontras tussen die ou orde se doofheid en die nuwe se gehoor.
Psalm 46: (veral v 11) — Die verband tussen stilte en die erkenning van God.
Jeremia 1:6–8 — God se roeping ignoreer menslike beperkings.

❓

Watter “geraas” in jou lewe doof jou ore om God se Stem te hoor?

🙏🏽

Here, vergewe my dat ek dikwels meer praat as wat ek luister. Vergewe my dat ek dikwels vir U wil voorskryf en minder gewillig is om U pad te wil loop. Maak my hart vandag soos ‘n skoon bladsy waarop U kan skryf.
Amen.