40 DAE VAN OORWINNING
#4 – 21 FEB
>
OORWINNING OOR HAASTIGHEID
“Wag op die Here; wees sterk en laat jou hart dapper wees; ja, wag op die Here.” Psalm 27:14
Ons leef in ’n moderne wêreld wat alles onmiddellik wil hê: kits-antwoorde, vinnige resultate en kits-oplossings vir komplekse probleme. Haastigheid het vir baie van ons ’n chroniese leefstyl geword. Alles moet nóú gebeur, en sou jy wag “verpas jy die bus” van geleenthede. In die wêreld-van-gejaagdheid is geduld beslis nie ‘n opsie nie. Selfs in ons geloofslewe probeer ons dikwels om God aan te jaag volgens ons eie kalender en behoeftes.
Maar God werk selde volgens ons menslike spoed; Hy werk altyd volgens Sy volmaakte wysheid. Om op die Here te wag, is nie passiewe niksdoen nie, maar ’n vorm van aktiewe vertroue. Dit is die doelbewuste keuse om te glo dat God agter die skerms besig is, selfs wanneer jy absoluut niks sien gebeur nie. Haastigheid steel ons innerlike vrede en maak ons blind vir dit wat God nou reeds in ons doen. Oorwinning oor haastigheid kom wanneer ons leer om ons tyd en toekoms in Sy hande te los.
Is dit dalk nodig om tot bedaring te kom en op God te wag?
GEBED:
> Here, ek bely dat ek dikwels probeer om voor U uit te hardloop
> omdat ek bang is dat dinge nie vinnig genoeg gebeur nie.
> Leer my die heilige kuns om stil te raak,
> op U tydsberekening te vertrou.
> Ek gee my planne en my drome vir U,
> in die wete dat U pad altyd beter is as my eie kortpaaie. Amen.

