#3 – 20 FEB

40 DAE VAN OORWINNING

#3 – 20 FEB

> 💡 OORWINNING OOR VREES

“Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God.” – Jesaja 41:10.

Vrees is een van die stilste, maar magtigste kragte in ons lewens. Dit bekruip ons gedagtes. Dit bepaal dikwels ons belangrikste besluite, ons woorde en selfs ons stilwees. As ons eerlik is, het baie van wat ons níé doen of sê nie, dikwels minder met wysheid te doen en veel meer met vrees. Dit verlam ons en hou ons gevange in ’n lewe wat kleiner is as wat God vir ons bedoel het.

God se antwoord op ons vrees is egter nie altyd ’n skielike verandering in ons omstandighede nie. Sy antwoord is wel ’n belofte van Sy onwrikbare teenwoordigheid: “Ek is by jou.” Hierdie wete is genoeg om die wankelrige grond onder jou voete weer stewig te maak. Oorwinning oor vrees beteken nie dat jy nooit weer bang sal wees nie, maar dat vrees nie langer oor jou regeer nie. Jy kies om God te vertrou, selfs wanneer jy glad nie die pad vorentoe verstaan nie.

🗝️ Watter vrese hou jou gevange?

🙏 GEBED:

> Here, ek bring die vrese wat my snags wakker hou

> en my bedags terughou voor U troon.

> Ek bely dat ek dikwels toelaat dat angs die stuurwiel van my lewe oorneem.

> Ek wil doelbewus my vrese in U deurboorde hande plaas.

> Ek kies om op U krag te steun –

> nie op my eie beperkte insig nie.

> Amen.