40 DAE VAN OORWINNING
#38 – 2 Apr
>
OORWINNING OOR DIE GRAF
“Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het ‘n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan.” – Matteus 27:59–60
Enige mens wat al ‘n geliefde hul laaste asem sien uitblaas het, weet die dood is finaal. Hier raak stilte permanent.
Jesus word in ’n graf neergelê. ’n Ware graf. ’n Geslote graf. Die dissipels se drome is begrawe saam met hul Messias.
Maar hulle sou ontdek – die graf is geleen. Dit sou Jesus nie kon vashou nie. Selfs in Lydenstyd dra hierdie waarheid ’n stille belofte van hoop aan ons.
Oorwinning oor die graf beteken nie ons ontken die werklikheid van dood en verlies nie. Dit beteken wel dat God selfs in die doodsheid van die dood in beheer is.
Waar jy dink alles is verby, begin God iets nuuts. Die grafsteen dra nie die laaste woord nie.
Gebed:
> Here, ek ken plekke wat dood voel; soms selfs in my eie hart.
> Herinner my dat doodsheid nie die laaste sê het waar U lewe bring nie.
> Werk selfs in my donker ruimtes.
> Bind my al stywer aan U hoop wat lewe is. Amen.
Ons het bykans aan die einde van ‘n reeks gekom – mag dit jou so gevoed het soos die skrywe hiervan vir my. As jy die vermoë het om te help dra, weet dat jou ondersteuning nie net die projek lewendig hou nie, maar ook my vreugde vergroot om dit met jou te deel. (STANDARD BANK; TAKKODE: 051001; REK NO: 080042805; REK NAAM: R M Bezuidenhout)

