40 DAE VAN OORWINNING
#35 – 30 Mrt
>
OORWINNING OOR VERWERPING
“My God, my God, waarom het U My verlaat?” – Matteus 27:46
Ons betree nou die laaste week van Lydenstyd. Die pad word stiller. Die kruis kom nader. Tree vir tree stap ons saam met Jesus – die Pad van die Kruis. Die Pad van Verwerping.
Verwerping sny diep. Jy is nie genoeg nie, jy het nie waarde nie; ook nie ‘n plek nie.
Aan die kruis roep Jesus hierdie woorde uit. Nie net as lydende Mens nie, maar as Een wat die volle gewig van verwerping dra. Hy betree daardie donker ruimte waar ons bang is om self te wees.
Maar hier lê die oorwinning: deur Sy verwerping word ons aangeneem. Wat ons uitsluit, sluit Hy in. In Hom word ons nie uitgestoot nie, maar vasgehou.
Oorwinning oor verwerping beteken: jy behoort – omdat jy aan Christus behoort.
GEBED:
> Here Jesus,
> U ken die pyn van verwerping en die stilte van verlatenheid.
> Wanneer daardie stemme in my hart fluister dat ek nie genoeg is nie, herinner U my dat ek in U aangeneem is.
> Wanneer mense my wegstoot, hou U my vas.
> Dankie dat U verwerping gedra het sodat ek nooit finaal verlaat sal wees nie. Amen.
Ons reeks het bykans tot ‘n einde gekom. Maand na maand delf ek diep in die Woord, biddend, om dagstukke te skryf wat ‘n getuienis sal uitdra. Dankie dat jy deel daarvan is. Soos ’n rivier wat gevoed word deur baie klein strome, hou elke bydrae hierdie projek aan die vloei. Jou ondersteuning – hoe klein ook al – help om die stroom lewendig te hou. My bankbesonderhede is: STANDARD BANK; TAKKODE: 051001; REK NO: 080042805; REK NAAM: R M Bezuidenhout

