Vreesloos? ‘n Vreeslose vernuwing? Vandag? Eenvoudig – dit begin by God. En as dit by God begin, begin dit by liefde. So leer Johannes ons: “Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het…” (1 Joh 4:10a). En tipies mens, vra ons: Bewys dit! Wel, die bewys dat God ons liefhet, kry ons nie in die vorm van ‘n diamant nie, wel in ‘n houtkruis (aldus Joh 3:16).
Lees ek die eerste brief van Johannes, voel dit tog asof ‘n diamant in ons midde is – 47 keer verskyn die woord “liefde”! Luister net: “Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (v19). Waarop die Kerkvader, Augustinus, gesê het: “God het elkeen van ons so lief asof daar net een van ons is.” Dit laat my dink aan my sussie wat jare gelede gesê het, toe ek vra hoe ‘n mens ooit ‘n tweede kind so lief kan kry soos jou eerste: “Jou hart verdeel nie; jou hart vergroot.”
Ek dink altyd aan die woorde van Moeder Teresa van Calcutta: “As jy self ontdek hoe lief God jou het, dan kan jy nie anders as om liefde uit te straal nie.” Jy leef dít na buite wat binne jou is. As God se liefde jou deurdring, dan is liefde ook jou moedertaal. Soos Johannes ook skryf: “In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite.” (1 Joh 4:18) Vreesloos kan ons begin liefhê; vreesloos kan ons hoop; vreesloos kan ons lewe – te midde van al die onsekerheid wat die wêreld ons aanbied.
Soos Johannes sê: “Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons tot vervulling gekom” (1 Joh 4:12). Wil jy weet of jy in God glo? Meet dit aan die liefde wat jy uitleef.
GEBED: Dankie dat ek die diamant van U liefde vashou; dat die kruis die rigting vir my aandui.
KUNS: Provincial Spring, Ludwich Olivier, contact ludwich_olivier on Instagram.
MUSIEK:
Ons luister na YehlaMoya, Zoeloe tradisionele geestelike-lied, verwerk deur Mbuso Ndlovu, en opgevoer deur die Südtiroler Landesjugendchor in Noord-Italië.
Uit die liriek:
Somandla, Baba Wethu (Almight, Our Father)
Thel’uMoya Oyingcwele (Pour out your Holy Spirit)
Izwe lethu lonakele (Our Nation is corrupt/spoiled)
Yehla Moya Oyingcwele (Come down Holy Spirit)
Sithembele kuwe (We rely on you)