Tydens die voorbereiding vir ‘n weeklikse Bybelstudiegroep ontdek ek iets wat ek nie geweet het nie. (Dit is altyd die lekker bederf van my werk!) Ons bestudeer die Handelinge van die Apostels en ter bespreking is Handelinge 12. Petrus is deur Herodus gevange geneem en sou die volgende oggend tereggestel word. Maar intussen, aldus Hand 12:5, het die gemeente “aanhoudend vir hom tot God gebid.” Die 2020-vertaling skryf: “maar ‘n volgehoue gebed tot God het uit die gemeente vir hom opgegaan.” Bloot vir interessantheid gaan kyk ek na Engelse vertalings. Die NIV skryf: “but the church was earnestly praying to God for him.” Sommige praat van “fervently praying”, ander van “without ceasing.” In The Message staan daar: “the church prayed for him most strenuously.”
Waarom interesseer dit my? Want hierdie woordjie “fervently” in Grieks beteken dat iets kookpunt bereik. “Strenuously” impliseer dat jy jou spiere gestrek word. Een wyse waarop die doodstraf uitgevoer is, was dat jou ledemate elk aan ‘n perd vasgebind is en jou dan uitmekaar getrek word. Met ander woorde, die intensiteit is so erg dat jou binneste letterlik uitmekaar skeur.
Waarom interesseer dit my?, mag jy weereens vra. Omdat hierdie woordjie net nog eenmaal in die Bybel verskyn. In 1 Pet 1:22 skryf Petrus: “Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.” Kookpunt-liefde! “Now that you’ve cleaned up your lives by following the truth, love one another as if your lives depended on it” (1 Peter 1:22, MSG). Met soveel intensiteit dat dit voel asof jy jou spiere tot die uiterste moet inspan.
Is dit hoe jy liefhet? Eintlik is dit die enigste manier hoe ons moet liefhê. Kookpunt-liefde. Liefde tot die uiterste. Dit is hoe God se liefde vir ons is!
GEBED: Vandag moet ek bely dat ek nie met soveel intensiteit my naaste liefhet nie, Here! Vergewe my.
KUNS: Pierneef se stasiepaneel, Louis Trichardt.
MUSIEK:
Ons kyk na dié liriek video van “Vreugdevol Vry” uit die pen van Philip Marais. Dankie aan Louis Conradie vir die mooi video.