Ek loop ‘n goeie vriend van my op ‘n parkeerarea raak. Wat van ‘n vinnige koffietjie, vra ek. Ongelukkig kan hy nie – “vandag hardloop ek weer soos mal ding rond.” Die gemeente waar hy werk, is groot; sy dagboek is vol. “Almal eis hulle pond vleis”, kla hy. Hoe sal ek dan nie daarvoor begrip hê nie; ek was self al daar. Altyd besig. Dit was in daardie tyd dat my eie geloofsbegeleier my aan die lewe van die woestynvaders en -moeders van die derde eeu bekend gestel het. Wyse mense wat die stilte van die woesternye gaan opsoek het; van een ding was hulle seker: Die sekerste manier om nie God se stem te hoor nie, is ‘n besige lewe.
Hierdie wysheid pas natuurlik nie gemaklik in ons moderne mense se verstaan van die lewe in nie. Ons wil juis besig wees, want daar is niks so erg soos verveling nie. Niemand moet tog dink dat ons lyf wegsteek nie. Ons slaan sommer drie vlieë met een klap. “Multi-taskers.” Daar is net nooit genoeg tyd nie, kla mense.
Om God se stem te leer ken, vra ‘n nuwe manier van fokus. Jou prioriteite moet verskuif. Ek wonder wat Jesus vir ons sal sê? Seker maar presies wat Hy destyds vir die mense gesê het: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. … julle sal rus vind vir julle gemoed” (Matt 11:28-30).
Toevallig was die las wat mense destyds op hul skouers voel rus het nie die las van besige dagboeke nie, dit was die las van godsdienstige wette. Soms dink ons aan ons geloofslewe asof dit net nóg iets is wat op ons besige program beslag wil lê. Terwyl geloof in Christus juis oor bevryding gaan. Bevry vir ‘n nuwe manier van dink en leef.
Dalk is Jesus se uitnodiging presies wat jy vandag moet hoor?
GEBED: Ook ek is soms vermoeid en swaar belas, Here. Gee aan my U gemoedsrus.
KUNS: The Pretty Baa-Lambs, 1851-59 by Ford Madox Brown
MUSIEK: Ons luister na “Kom Na My Toe” verwerk deur Johann van der Sandt vir die Oos-Rand Jeugkoor.