GLO SOOS ‘N KIND
13. DIE VERLIGTING VAN ONTMASKERING (19 Mei)
“Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes.” – Psalm 139:23–24 (2020-vert)
“God, kyk of U my kan vertrou. Toets my gesindheid. Kyk of ek eerlik is.” (Die Boodskap)
———————–
Kinders het selde ’n wag voor hul mond. Hulle druk hul emosies rou-eerlik uit, en selfs ontstellend direk. As volwassenes word ons, met die jare, egter meester-maskerdraers. Ons leer om ons vrese agter vroom woorde te versteek en ons twyfel op allerhande wyses te verbloem. Almal van ons raak wel een of ander tyd tam om altyd ‘n prentjie voor te hou wat ons weet nie werklik is nie.
Dawid se gebed in Psalm 139 is nie ’n beleefde uitnodiging nie; dit is oorgawe in kwadraatvorm. Hy vra dat God hom moet uitskud. Hy weet dat God dwarsdeur ons maskers kyk. Daar is voor God net die ware self, nie die ideale een nie.
So is geloof soos ’n kind: dit is die vryheid om op te hou probeer om God te fnuik.
Wanneer ons ons maskers laat val, verloor ons niks wat werklik saak maak nie. Inteendeel, ons vind die enigste plek waar genesing kan begin: in die lig van die volle waarheid. God se genade kan nie ’n masker transformeer nie; dit kan net ’n mens verander.
———————
> VIR SELFSTUDIE:
1 Samuel 16:7 – God kyk verby die masker na die werklikheid van die hart.
2 Korintiërs 3:18 – Ware transformasie gebeur slegs met ’n “onbedekte gesig.”
1 Johannes 1:8–9 – Die bevryding wat kom wanneer ons ophou ontken.
Psalm 139 – Dawid se eerlike gebed van selfondersoek.

Is daar dalk blindekolle in jou lewe sodat jy ook vandag vir God moet vra om dit aan jou te openbaar?

Here, dankie dat U my reeds ken. Help my om die moed te hê om die maskers af te haal sodat U my werklik kan aanraak.
Amen.

