GEESKRAGTIG
#10 – Die Gees gee jou hoop (12 Junie)
🏋️ Geeskrag: Die Gees is God se waarborg van hoop vir die toekoms.
“Mag God wat die bron van julle hoop is, julle deur die krag van die Heilige Gees vervul met alle vreugde en vrede in die geloof, sodat julle hoop al hoe sterker kan word” (Romeine 15:13). Paulus se gebed wys dat hoop nie ’n vae wensdroom is nie, maar ’n vaste gawe van God. Pinksterdag het die waarborg van hierdie hoop sigbaar gemaak – die Gees van God is teenwoordig en aktief. Dit beteken: jy leef nie net met ’n belofte vir later nie, jy dra nou reeds die krag van God se toekoms in jou. Wanneer moedeloosheid jou dalk vandag tref, laat die Gees toe om jou met vreugde en vrede te vul. Dit is hoe hoop sterker raak as enige omstandigheid. Laat die Gees toe om dit vir jou te doen.
👏 Bron van Hoop, Heilige God, vul my met U Gees dat geloof, vreugde, vrede en hoop in my sal groei.
🕰️ AS JY MEER TYD HET:
• Lees : Efesiërs 1:11–14; Romeine 8:18–25; Hebreërs 11:1–16.
Die Gees se waarborg beteken dat hoop nie net ’n emosionele troos is nie, maar ’n teologiese realiteit. Romeine 8 sê: “Ons wag in hoop, maar hoop wat gesien word, is nie hoop nie.” Die Gees gee jou die vermoë om te wag met sekerheid dat elke belofte van God sal realiseer. Jy leef nou tussen belofte en vervulling, maar daar kom ‘n dag dat God alles sal afhandel. Hoop is nie sit-en-wag nie; dit is opstaan-en-leef, omdat jy die Gees by jou het.
💭 Dink vandag: Watter valse waarborge of angstigheid dra jy oor die toekoms – en hoe verander dit jou perspektief dat die Gees jou ’n nuwe waarborg gee?
👉 Môre se vraag: Hoe leer die Gees jou om in geloof te volhard?

