Die Gees maak jou vry van vrees

GEESKRAGTIG

8 – Die Gees maak jou vry van vrees (10 Junie)

🏋️ ⁠ Geeskrag: Die Gees gee die moed wat vrees oorwin. ⁠

“Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Timoteus 1:7). Waar die Gees werksaam is, word stille waagmoed sigbaar – nie bravade nie, maar ’n moed wat spruit uit God se teenwoordigheid. ’n Mens sien dit in die enkeling wat teen die massas opstaan en getuig oor wat reg en goed is vir God, selfs al weet hy dit kan hom duur kos. Deur die krag van die Gees het jy ’n stem waar jy andersins sou stilbly. En juis daardie stem, hoe klein ook al, word ’n teken van God se krag wat vrees oorwin.

👏 Heilige Gees, wys aan my uit waar my vrees my stem vir reg en verkeerd stil maak, en vul my dan met U krag, liefde en selfbeheersing.

🕰️ AS JY MEER TYD HET:

•⁠ ⁠Lees : 2 Timoteus 1:6–12; Romeine 8:14–17; Psalm 27.

Die Gees se werk is nie oppervlakkig nie – Hy vorm jou identiteit en jou roeping. Paulus skryf dat die Gees jou nie ’n gees van slawerny gee om weer te vrees nie, maar jou inlyf as kind van God (Romeine 8:15). Dit beteken dat vrees nie net ’n emosie is nie, maar ’n teken van die “ou mens” wat jou wil terughou. Die Gees breek daardie bande en gee jou ’n nuwe status: mede-erfgenaam met Christus. Hierdie waarheid is nie net troos nie, dit is ’n teologiese anker – jou getuienis spruit uit jou identiteit. Wanneer jy getuig, doen jy dit nie as iemand wat bloot dapper probeer wees nie; jy staan op die vaste fondament van God se beloftes, verseël deur die Gees.

⁠💭  Dink vandag: watter vrese weerhou jou van voluit leef? Want as jy nie voluit leef nie, kan jy ook nie voluit getuig nie.

👉 Môre se vraag: Hoe bevestig die Gees jou identiteit?