VASTE FONDAMENT 31 Jan (Vrydag)

Een van die gereelde sê-goed tussen die tiener-kleinkinders in ons familie is ‘n kort, “so what?” Dit is sommer ‘n direkte manier om te sê, nou ja, na al hierdie dinge wat jy gesê het, wat is die implikasies daarvan? “So what?” En laat jy nou net nie ‘n goeie verduideliking kan gee nie, dan kry jy ook vinnig-vinnig ‘n “useless info”-opmerking terug.

Vandag is die laaste dag van ons nadenke oor die vaste fondamente van ons geloof. Dit is nou alles goed-en-wel, maar “so what?” Maak dit werklik enige verskil? Is die baie praat oor geloofsbelydenisse nie bietjie te hoog-kerklik nie? Wees eerlik. Wanneer jy in ‘n groot krisis kom, is dit jou geloofsbelydenis wat jou regop hou, of dink jy dan nie eers daaraan nie?

Hier lê nog elf maande van 2025 voor en ek wonder, wat hou dit vir ons in? Die psalmdigter van Psalm 46 beskryf vreesaanjaende dinge wat kan gebeur; so erg, dat selfs die berge sal bewe! Net soos in ons tyd grom nasies vir mekaar, en vernietig hulle mekaar in oorloë. Natuurlik sal dit enige mens bang maak. Behalwe … behalwe as jou geloofsbelydenis jou regop hou. Drie maal herinner die psalmdigter homself en die volk: “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood” (v2). “Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting” (v8, en weer in v12).

Dit is bekend dat Psalm 46 die Kerkvader, Martin Luther, se gunstelingpsalm was. In die donkerste tye tydens die kerkhervorming het Luther vir sy gemeente gesê: “Kom, kom ons sing Psalm 46 en laat die vyand maar gerus hul ergste probeer doen.” En dan het hulle gesing: ‘n Vaste burg is onse God!

God omring ons, soos ‘n sterk muur ‘n kasteel in antieke tye omring het; so het ons ‘n skuilplek.
Skepper. Almagtige. Onderhouer. Voorsiener. Beskermer.

GEBED: Nie omdat ek sterk is nie, Here, maar omdat U sterk is; daarom vrees ek niks.


MUSIEK:

Vandag luister ons na ’n Vaste Burg is Onse God, ’n kragtige gesang wat oorspronklik deur Martin Luther geskryf is. Hierdie lied dra ‘n diep boodskap van geloof, beskerming en hoop, wat die siel versterk en vertroosting bring in tye van struikelblokke. Deur sy veelsydige harmonisering, van die militêre ritme tot J.S. Bach se weergawe, illustreer dit die blywende krag van God se teenwoordigheid in ons lewens. Laat die musiek jou hart vul met vrede en herinner jou aan die krag van geloof wat ons deur die eeue heen ondersteun het.