VASTE FONDAMENT 30 Jan (Donderdag)

Soms is dit goed dat ons elkeen ons eie geloofsbelydenis neerskryf. Geensins om die amptelikes te vervang nie; bloot om onsself net weer uit te daag om na te dink oor wat ons glo en waarom ons dit glo. Die bekende Prof Wilhelm Jordaan van UNISA het die volgende geloofsbelydenis geskryf wat ek graag vir jou wil plaas. Dalk inspireer dit jou ook om die pen op te neem…

Blydenuus van geloof – Wilhelm Jordaan

Ek glo in God die Vader
die Almagtige Maker
van alles in die hemel
en alles op die aarde.

Ek glo in hierdie Vader
met die wondernaam:
“Ek is wat Ek is”,
werkwoordelik onvoltooid
voortdurend God.

Ek glo in hierdie Vader
van wie Moses slegs die rug
kon sien toe hy gevra het:
“Wys my U gesig.”

Ek glo in hierdie Vader
die God wat Liefde is
en ons na hierdie aard gevorm het
tot vlees uit stof,
en dit gevul het met Sy Gees
sodat ons uit gewone mensesaad
mense na Sy beeld kan maak:
om hiérin onsself te wees –
om lief te hê
sonder vrees.

Ek glo in hierdie Vader
wat die waters uit Sy hemel gee
as teken van Sy seën
sodat elke volk –
wit en bruin en swart –
in eie taal die Heer kan loof
en heersend oor die Skepping
voort kan gaan
om groente in akkers te plant
daarvan te eet en te dank.

Ek glo in hierdie Vader
wat Hom geopenbaar het in Sy Seun,
die Mens wat tussen ons kom woon het
as die Waarheid teen die Leuen:
“Sien dan dié Mens! – die geheim van My gesig.”

Ek glo in hierdie Seun
die Timmerman van Nasaret
wat gekom het
en kom om ons te ken
elkeen na sy naam ¬
in die fynheid en die grofheid van sy grein
en in die jaarringe van sy pyn.

Ek glo in Jesus Christus
die Mens na God se hart
wat God se wil gekies het
om deur die haat en klein begrip
van mense ’n doringkroon te dra,
en van God geskei te word
in die Godverlatenheid van Golgota
die doderyk deurgrond het –
en opgestaan het
dat ons onvervreem van God
verby die dood ewig vry kan lewe.

Ek glo in hierdie Jesus
wat opgevaar het na die Vader
en vandaar die sagte oordeel bring
omdat Hy nader aan my is
as wat ek aan myself is;
my kern ken,
verby die vel
tot in die chemie van die sel;
wat weet hoe diep my blindheid is
en my vashou –
styf teen die braille van Sy lyf.

Ek glo in die Heilige Gees
die Wind van God
wat oor die leegheid van my lewe waai
en die koers bepaal –
weg van myself weg van Tarsis
na die nood in Ninevé.

Ek glo aan die kerk wat uit Christus groei
tot nuwe skeppingswerk;
om alle mense
met geloof en hoop en liefde te verbind
aan die Koninkryk van God se Kind.

Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars
wat kniel voor die Heiligheid van God.

Ek glo aan die vergiffenis –
dat Genade altyd groter is
as my sonde en geskiedenis.

Ek glo aan die heropstanding van die liggaam
want ek glo in Christus.

Ek glo aan die ewige lewe
wat hier begin
en ná die dood
die blydenuus bly sing.
(Geneem uit die “Gebedeboek met liturgiese Voorstelle”)

GEBED: Vandag kom ek ook voor U staan en sê, Hier is wat ek glo, my Here: …


MUSIEK:
Vandag luister ons na I Believe deur die Laudate Mennonite Ensemble, ’n lied wat deur sy eenvoud en krag ’n diep boodskap van geloof en hoop dra. Hierdie pragtige musiek herinner ons aan die sekuriteit en vertroosting van ons geloof, en hoe dit lig bring in ons daaglikse lewe. Laat die klanke jou hart versterk en jou siel vul met vrede.

Uit die Liriek:
I believe in the sun
Even when it is not shining.
I believe in love
Even when I cannot feel it.
I believe in God
Even when He is silent.