VASTE FONDAMENT 29 Jan (Woensdag)

Deur die eeue het vele teoloë gesê dat die geloofsbelydenisse bedoel is om daagliks in die lewe van die Christen en die Christelike gesin gebruik te word. Dit herinner ons daaraan dat ons – saam met alle gelowiges oor geslagte heen – op reis is met ‘n padkaart wat die roete vir ons lewe aandui.

Ek wonder wanneer die gebruik gestaak is om daagliks – saam – die geloofsbelydenis te sê? Is dit omdat ons te haastig geraak het? Omdat ons vergeet? Omdat dit nie meer vir ons belangrik is nie? Christus is ons vaste fondament; maar wat laat die mure van die gebou nie tuimel nie? Dit is waarom Paulus vir die jonge Timoteus geleer het: “Oefen jou om in toewyding aan God te lewe” (1 Tim 4:7). Uit eie ervaring weet ons geloofsverdieping en -groei gebeur nie vanself nie. Selfs Jesus het in sy tyd geloofsgewoontes ingeoefen wat deel van die Joodse gebruik was – soos om daagliks die sinagoge te besoek. Die daaglikse opsê/lees van die belydenis is een van die geloofsgewoontes wat ons herinner aan wie ons is en aan Wie ons behoort.

Jy hoef nie, maar ek wil hierdie gebruik weer begin inoefen. Soos om saam hande te vat aan die etenstafel en te bid. Die boodskap daarvan is duidelik: die wêreld daag ons al meer uit met wat ons glo, maar ons belydenisgeskrifte is ons getuienis vir die wêreld. Soos Josua destyds gesê het, “As dit in julle oë (verkeerd is) om die Here te dien, kies julle dan wie julle wil dien… Maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos 24:14-15).

Hierdie is my padkaart waarmee ek deur die dag my lewe wil ingaan. Wat ook al hierdie dag vir my wag, ek weet wat ek glo!

GEBED: Dankie vir die genade van geloof, Here. Dankie vir die hulpmiddel op my geloof in U te versterk.


MUSIEK:
Die Geloofsbelydenis van Nicéa
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sienlike en onsienlike dinge; en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye
God uit God; Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader; deur wie alle dinge ontstaan het; wat ter wille van ons, die mens, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is; en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte; wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader; wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;
en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.
Ons glo aan een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.
Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;
ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu. Amen.