Die afgelope weke is die nuuskanale oorheers deur die grubeelde van vernietigde huise in Los Angelos. Maar die brandweermanne het lankal die werklike vuur kon blus, terwyl ‘n ander storie soos ‘n veldbrand begin het, en steeds woedend tier, ook in Suid-Afrika. Meer as een keer het iemand selfs die boodskap per whatsapp vir my aangestuur: ‘n vlammefoto, gemanipuleer om soos ‘n rollende brander te lyk, met rooi letters daarby: “Our God will not be mocked.” Die “suurstof” agter hierdie teologie – dat God kwaad is en vandaar die brande. Dan moes God darem wraggies in 2010 woedend gewees het om bykans 300 000 mense in Haïti te laat sterf na ‘n aardbewing. En is Kwazulu-Natal se mense sondiger as die Noord-Kaap s’n dat daar meer as 12 000 huise in die 2022-vloed vernietig is? Is Los Angeles se sonde groter as die in Groot-Brakrivier?
Hou God ons so met ‘n vergrootglas dop net om te kyk wanneer ons “buite die lyne” trap? Wham! ‘n Vloed. Wham! ‘n Brand. Dit is die implikasie van Christene se getuienis: “Julle mors nie met ons God nie!” Is ons rolmodelle dan die “skrifgeleerde” en “leviet” wat by die vuisvoos-geslaande en weerlose man langs die pad verbystap (aldus Luk 10:25-37)? Dalk verstaan ons steeds nie die gelykenis dat dit juis ‘n (sondige, ongelowige) Samaritaan was wat genade bewys het.
My hart breek vir die mense op elke deel van hierdie planeet wat swaarkry deur natuurrampe. Maar, my hart breek in groter stukke as ek wonder watter getuieniswaarde Christene het wanneer hulle die boodskap van ‘n “Woedende God” verkondig en swyg oor die “God van Liefde”. Is dit nie juis ons sterkste fondament nie?
GEBED: Ek bid vir elke onskuldige mens wat gely het in watter ramp ook al; ek bid vir die natuur se swaarkry. Ek bid dat U Liefde sal seëvier.
MUSIEK:
Ons luister vandag na Ubi Caritas deur Dan Forrest, ‘n moderne verwerking van ‘n antieke Latynse teks wat handel oor liefde, eenheid en die teenwoordigheid van God waar mense in liefde saamkom. Met sy diepgaande klankteksture en emosionele krag nooi hierdie lied ons om stil te word en die boodskap van liefde en samehorigheid te beleef. Laat die musiek jou hart raak en herinner aan die skoonheid van liefde wat ons almal bind.