PADLANGS #6 – 9 Feb.
>
DIE DISSIPLINE VAN WAG
Handelinge 1:4 – “Moenie van Jerusalem af weggaan nie… wag vir die belofte van die Vader.”
Ons is nie goed met wag nie. Vir ons voel wag soos tydmors of ‘n gebrek aan geloofswaagmoed. Ons wil beweeg en bereik. Maar soms is wag die mees radikale ding wat jy kan doen. Die dissipels moes wag vir die krag van die Heilige Gees voordat hulle ’n enkele tree kon gee. Sonder die Gees sou hulle werk vrugteloos gewees het.
Koninkrykswerk gaan nie oor menslike energie nie, maar oor Goddelike tydsberekening. Wag is nie die afwesigheid van beweging nie; dit is die voorbereiding daarvan. Soms laat God ons wag omdat die wêreld nog nie gereed is nie – of erger, omdat óns nog nie gereed is nie.
Is jy tans in God se wagkamer? Kan jy dit sien as deel van jou opleiding, eerder as ‘n onderbreking daarvan?
Here, help my om te vertrou dat wagtyd nie verlore tyd is nie, maar voorbereidingstyd. Amen.
VIR DIEPER DUIK: In vandag se oudio-boodskap (3 min) kyk ons na die vreemde krag van die Hebreeuse woord qavah en hoekom die dissipels moes stilsit voordat hulle die wêreld kon verander.

