PADLANGS 10 – 13 Feb.

PADLANGS 10 – 13 Feb.

> 💡 WANNEER DIE PAD DONKER WORD

📖 Psalm 23:4 – “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is by my.”

Dissipelskap beteken nie dat jy altyd sterk voel nie. Daar is tye in ‘n mens se lewe waar jy begeer dat die lig tog net moet deurbreek. Selfs Jesus het in Getsemane donker nagte geken. Ons moet weet: geloof sluit ook twyfel en trane in. Die Bybel verdoesel dit nie – Dawid huil, Job vra vrae, Jesus sweet bloed.

Die donker pad impliseer nie dat iets verkeerd is nie; maar dit is die tyd dat jy moet weet, nou moet jou hand stywer in Sy Hand wees. Hou vas aan die belofte: “Ek is by jou.” Wanneer jy nie lig sien nie, kan jy steeds Sy teenwoordigheid vertrou.

🔌 Ervaar jy dalk vandag ’n “donker dal” – Lees dan gerus Psalm 23 en onthou: God is by jou. (En indien jy weet van iemand wat deur ‘n donker dal gaan, stuur vir hulle hierdie boodskap aan.)

🛐 Here, soms is my lewensomstandighede net vir my te veel. Dankie dat ek juis dán kan weet U hou my hand vas. Amen.

🎧 VIR DIEPER DUIK: Luister na die teksopname in DIEPER DUIK hoe die Bybel eerlik oor donker tye praat – van Job tot Jesus in Getsemane – en hoekom dit deel van dissipelskap is.