40 DAE VAN OORWINNING #26
OORWINNING OOR MATERIALISME
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie… want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” – Matteus 6:19–21
Materialisme is nie net die begeerte na meer en beter nie; eintlik gaan dit oor veiligheid. Dit is om die leuen te glo dat as jy genoeg besit, jy “okay” sal wees. Meer spaargeld. Meer sekerheid. Meer beheer. Waarom dan bly die onrus?
Jesus leef sonder enige aardse sekerhede. Hy het geen huis nie. Geen spaargeld nie. Geen waarborge nie. En tog leef Hy met ’n diep vrede. Sy hart is vasgemaak aan die Vader, nie aan besittings nie.
Lydenstyd herinner ons dat ons nie ingesluk moet word in die sekerheid wat die wêreld ons beloof nie. Oorwinning oor materialisme beteken nie jy verkoop alles nie. Dit beteken jy skuif jou vertroue. Jy begin jou sekerheid bou op God se getrouheid, nie op jou bankbalans nie.
Wanneer jou skat verander, verander jou hart. En wanneer jou hart rus in God, raak jou oë oop vir ander se nood; en jou hande oop om te versorg.
GEBED:
> Here, ek weet ek soek soms my veiligheid in besittings.
> Help my om my vertroue terug te skuif na U toe – U is my sekuriteit.
> Leer my om eenvoudiger en vrygewiger te leef.
> Ek wil nie deur aardse dinge besit word nie, ek wil deur U besit word.
> Maak my hart los van bekommernis. Amen.

