Daar is min onderwerpe wat so knaend bespreek word soos die sg. “teodisee vraagstuk”. Dalk ‘n onbekende woord, maar jy ken die vraag: Hoe kan God regverdig genoem word, as soveel onregverdige dinge onskuldige mense tref? Daagliks gebeur soveel slegte dinge, nie net met onskuldige mense nie, maar ook met hulle wat juis vir God dien, dat ons moet vra: Is God wie ons dink God is? Is God die God van liefde? Is God werklik die almagtige? Is God werklik in beheer? Waar is God wanneer ons God werklik nodig het?
Dit is nie ‘n moderne vraagstuk nie! Die oudste boek in die Bybel – die boek van Job – vra hierdie vraag sommer reeds vanaf bladsy een. Oor-en-oor daarna het profete na Job se worstelvraag verwys, en millennia later het Jakobus geskryf: “Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming” (Jak 5:10). Die probleem is egter dat daar ‘n groot onbillikheid is in hierdie “rykdom” van God as dit onskuldiges is wat moet ly? As slegte dinge goeie mense tref; meer nog, as God dit oënskynlik toelaat? Het jy dan nie al self in jou eie lewe uitgeroep na die hemele en geskreeu: “Waarom, Here, waarom” nie? Ek het!
Daarom verstaan ek dat mense kan wonder, watse “tipe” God is dit wat sy mees toegewyde volgeling (Job) aan Satan oorgee met die woorde, “Goed, hy is in jou mag” (Job 2:7).
Moenie skrik nie – ons mag maar hierdie vrae vra! Dalk wil God juis hê dat ons hierdie vrae moet vra. Dalk is dit die tipe vrae wat ons – soos die Hebreërskrywer sê – help om die babakos-dieet te staak en die “vaste kos vir grootmense” (Heb 5:14) te begin eet.
GEBED: Mag ek eerlik bely, my Here, dat ek nie altyd antwoorde op hierdie vrae het nie.
MUSIEK:
“Precious Lord” uitgevoer deur Pro Cantu Jeugkoor en Alumni onder leiding van Leon Starker. Opgevoer in Hugo Lambrechts Ouditorium, Kaapstad. In 2012 het Pro Cantu hul naam verander na Cape Town Youth Choir.