#Job 6:  Leer ken die (magtelose) teenstander

Ons leef in ‘n tyd waar mense gefassineer is met die bose. Ten spyte daarvan dat die idioom lui dat ons nie ‘n duiwel agter elke bos moet soek nie.  Ten spyte daarvan dat Paulus ook skryf, “Ek sou graag wou sien dat julle alles weet van die goeie en niks wil weet van die slegte nie” (Rom 16:19). Die bose is ‘n realiteit, maar die bose is nie te vrees nie. Die beeld wat Paulus gebruik, was die van ‘n oorlogswa wat krygsgevangenes destyds in hul triomftog agterna deur die strate laat paradeer het; op dieselfde wyse het Christus die bose magte “in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (aldus Kol 2:15). Wees verseker, die finale nekslag sal nog plaasvind: “God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter” (Rom 16:20a); lees ook Openb 12:10-11).  Maar moenie bang wees nie: “Die genade van ons Here Jesus is by julle” (Rom 16:20b).

Tog word ons ook gewaarsku: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Pet 5:8). Ons mag (en moet) dus ook ons teenstander ken!

Presies dit is wat die woord “satan” beteken: teenstander.  Satan is nie God se teenstander nie, wel die van almal wat gehoorsaam is aan God. Soos Job. Omdat Job ‘n “regverdige” (getroue Godsman) was (aldus Job 1:1; 2:3), dáárom was Job volledig in die Teenstander se visier. 

Dalk dink ons dat God Job oorgegee het aan Satan se (on)genade. Maar, dit is nie waar nie. God het die grense getrek (sien Job 1:6; 2:12). Soos Jesus gesê het, “My vader … is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie” (Joh 10:29). 

Inderdaad. ‘n Magtelose teenstander.

GEBED: Geen groter beskerming as in U veilige hand nie, my Heer.

MUSIEK:

“Ubi Caritas” (Ola Gjeilo) word gesing deur die CWU Kamerkoor (Gary Weidenaar, regisseur). In die middel van April 2011 het die komponis Ola Gjeilo 3 dae op die Central Washington University Campus deurgebring om by die koor aan te sluit om 3 van sy stukke op te neem.Hierdie uitvoering van Gjeilo se “Ubi Caritas” kom uit daardie sessie, na aanleiding van ‘n weergawe waarin die komponis by die koor aangesluit het en ‘n begeleiding geïmproviseer het. In hierdie video sing die koor die stuk in sy gepubliseerde (onbegeleide) weergawe. Op die laaste bladsy van die stuk, wanneer die eerste melodiese materiaal weer voorkom – het Ola, wat in die saal gesit het, die helfte van die koor gevra om te neurie terwyl die ander helfte sing om ‘n meer eteriese effek te skep.