Hoe desperaat (of is dit dalk dwaas) moes Job nie gewees het nie om met soveel bravade teenoor sy vriende te verklaar: “My saak het ek gestel: nou moet die Almagtige my antwoord” (Job 31:35). Wanneer hy sê, “Ek kan rekenskap gee van elke tree wat ek gegee het, ek kan my teëstander met vrymoedigheid tegemoet gaan” (31:37), wonder ek of Job dalk hier aan God as sy teëstander gedink het? Dit moet wees, want hoor net hoe antwoord God Job (weer vanuit die stormwind): “Tree dan op met jou trots en jou groot mag, handel in jou majesteit en heerlikheid” (Job 40:5).
As jy so sterk is, Job, dan sien jy dalk kans om met die seekoei te stoei? Met groot ontsag beskryf die digter die reusedier: “Die bene in sy lyf is soos bronspype, soos stukke yster” (40:19). Of wat van die krokodil: “Op die grond is niemand sy gelyke nie, hy is ‘n ondier sonder vrees” (41:4).
Wie is jy dan, Job, om “aan Mý eise (te wil) stel dat Ek iets aan jou verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My” (41:2). Hierop het iemand eenmaal verwys na ons moderne gelowiges wat ‘n “domesticated God” aanbid. Dit is wanneer ons vergeet dat ons aan God behoort (en nie andersom nie). Ons is God se eiendom (en nie andersom nie!)
Ek verstaan waarom daar ‘n “stilte van nederigheid” oor Job gedaal het. God het skaars die vrae begin vra, toe verklaar Job: “My hand lê ek op my mond” (Job 39:37 – 2020 vertaling). Hier laat dink Job my aan die dissipel Tomas, wat nie kon glo dat Jesus na sy dood aan die ander verskyn het nie. En wanneer Jesus – met al sy wonde – dan wel aan hom verskyn, is daar net een eerlike antwoord: “My Here, en my God” (Joh 20:28).
Job sal dit verstaan.
GEBED: Voor U kan ek net in stille nederigheid buig, my Here en my God.
MUSIEK:
Ons kyk na die musiekvideo van “Soul Be Silent” gedirigeer deur Chad Hendricks en gesing deur Conroy Scott saam met die CCH Strings in Kaapstad. Hierdie weergawe van “Soul Be Silent” is verwerk deur Stephen Arendse.