#Job 24-25:  Met die vergrootglas op God se handewerk

Wanneer ek Job 39 lees, kan ek nie anders as om dadelik aan die Franse komponis, Saint-Saëns, se “Karnaval van die diere” te dink nie. Meesterlik word elkeen van die diere – die koninklike mars van leeumannetjies; vlugvoetige bokke; ‘n stadige skilpad; die grasieuse swaan; selfs visse en fossiele – met musikale klanke uitgebeeld. Dit is soos om vroegoggend by ‘n watergat in die Krugerpark te sit: is daar enige plek op aarde waar daar groter vrede en vreugde ervaar kan word? Stel jouself die vreugde voor wat God ervaar met elke dier se geitigheid. Jy kan nie anders as om te glimlag oor hoe Job 39:16-21 die volstruis beskryf nie: “Die vlerke van die volstruis klap vrolik; …sy broei haar eiers uit op die sand …(en) maak haar kuikens hard groot, asof hulle nie haar eie is nie; …sy het geen verstand nie, maar wanneer sy met vlerke omhoog hardloop, lag sy die perd en sy ruiter uit” (Job 39:16-21).

Job 38-39 is so anders as die kriptiese skeppingsverhaal van Genesis 1. Sal Job ooit God se kreatiwiteit werklik begryp? Sal Job God se intieme betrokkenheid by elke voël en dier begryp? God se getuigskrif is oop-en-bloot vir ons om te sien. Soos Rom 1:20 ook mos leer: “Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is…”. Kyk, Job, kyk! Kyk verder as net die oppervlakkige. 

Job 39 laat my voel asof ons saam met God op ’n virtuele reis geneem word deur die skepping en God elke denkbare detail aan ons uitwys. Al wat oorbly, is dat ons oopmond staan; sprakeloos; oorweldig deur die gevoel van ontsag en dankbaarheid. Om werklik te besef dat ons nie oor die skepping kan praat, sonder om oor God te praat nie!

Hoe kan ons dan ooit wonder of God, die Skepper van alles, van ons weet?  

GEBED: Siende-blind soek ek U, terwyl U by my is.

MUSIEK:

Ons luister na “Droomreis”  ’n gedig van Philip De Vos deur die Fox Chamber Choir. Die koor is onder leiding van Franco Prinsloo wat ook die gedig getoonset het.   Ben Schoeman is die pianis.

Uit die liriek:

Die pad tot by die naaste ster

lê niks meer as ‘n droomreis ver.

‘n Pyl wat pyl

tot in die niet

weg van trane en verdriet.

Tot daar waar niemand kruppel is

en die aarde net ‘n stippel is.

Die pad tot by dié silwer ster

bly net, maar net

‘n droombeeld ver.

Kom saam

met my

vannag

waar daar

towerdinge wag.

Vergeet vergeet

van môre

en die donker

van die dag.