Elkeen van ons het ‘n spesifieke lens waardeur ons na die wêreld om ons kyk. Nie die wydste wyehoeklens kan vir ons die volle prentjie van die werklikheid gee nie. Hoeveel keer maak ons nie selfs uitsprake oor God nie; so asof ons die volle prentjie ken? Dit is waarom die woordjie “maar” so belangrik is in die Bybel. Dink net aan Paulus wat in Ef 2:3-4 verduidelik dat, “Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. Maar …” Daardie woordjie verander alles! “Maar, God is ryk in barmhartigheid …”. Of Rom 12:2 waar Paulus herinner dat ons nie “wêreld-gelykvormig” moet wees nie (m.a.w. vanuit ons sondige manier redeneer nie), maar God moet toelaat om ons manier van dink te verander, “sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Rom 12:2).
Earl W. Pearl skryf ‘n gedig by name “But God”. Ek haal net twee strofes aan:
“I play to what the ego breeds
Man seldom is content
But God, He often intercedes
His mercy won’t relent
What faith they have, my fear impedes
I tell them God’s not there
But God has vowed to meet their needs
When hearing faithful prayer”
Ons leef met soveel vrese en vrae; en ons vertel soveel leuens aan onsself, bloot omdat ons nie die “teologie van maar” in ag neem nie. Dit is wat Job moes leer: hou rekening met God, die soewereine. Die hoogste gesag behoort aan God! Job, “wil jy ‘n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys …?” (Job 39:35) “Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: ‘Waarom het jy my so gemaak?’” (Aldus Rom 9:20).
Ek wonder, waar is ek dalk blind deur God se soewereiniteit te ontken? En jy?
GEBED: Ek bely dat U die soewereine God is; maar Here, leef ek so?
MUSIEK:
Ons kyk na die musiekvideo van Larnelle Harris se “But God”.