Die Boek van Job staan bekend as wysheidsliteratuur (waarvan die grootste gedeelte uit gedigte bestaan). Die probleem met hierdie genre is dat, al klink elke teksvers “mooi”, niks as losstaande gesien kan word nie. Neem byvoorbeeld Job se vriende wat daarop aandring dat hy net sy sonde moet erken. Sou ons nie elkeen van daardie teksverse kon gebruik en die allerlieflikste preke kon maak saam met tekse soos 1 Joh 1:8-10 nie: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself …” Wie van ons is tog sonder sonde? Nie eers Job nie! Behalwe dat Job nêrens beweer dat hy sondeloos is nie. Inteendeel … gaan lees net die pragtige Job 31.
Dit is ook die laaste keer dat Job homself teen sy vriende se aanvalle verdedig (sien Job 31:40b). Dit is asof hy en sy drie vriende die handdoek met mekaar ingegooi het, want hulle verdwyn van die toneel. Dan kom die jonge Elihu aan die beurt (vanaf Job 32 e.v.). Ons hoop is op hom dat hy vir Job antwoorde kan bring. Maar, dan gooi hy ook later sy hande in die lug en sê, as Job maar net sy sonde wil bely! (Sien 34:35-37; 35:16).
Maar, Elihu doen iets wat die ander drie vriende nie gedoen het nie – hy word ‘n profeet wat die pad voorberei vir God. Die fokus val weg van Job se ellende; God kom nou self na vore. Lyding plaas veral God, die Almagtige, se eer op die spel. En daarom die sterk woorde: “Luister terwyl Ek praat, Ek sal vra, antwoord jy My” (42:4).
Waarom sou dit vir God enigsins belangrik wees om te luister na ‘n nietige skepsel soos Job (of na my of jou)? Want dit is wie God is: God is nie die swygende God nie. God wil geken wees. Gehoor word. Vandag. Steeds.
GEBED: Dan loof ek U dat Elihu my ook voorberei om te hoor en te antwoord, Almagtige God.
MUSIEK:
Ons kyk vandag na die musiekvideo van “Dear Lord and Father” wat in 1872 deur John Greenleaf Whittier gekryf is. Die uitvoering is deur Gramophone Chorus in Ghana.