Die tweede vriend wat “insig” in Job se kop wou praat, is Bildad. Waar Elifas nog subtiel was om te sê dat die fout by Job lê, is Bildad glad nie so diplomaties nie. Die feit dat jou kinders dood is, Job, is die gevolg van hulle eie sondige toedoen (Job 8:4). Sjoe! Maar, dit word nog erger: waar Job homself as onskuldig gesien het, verklaar Bildad hom op die koop toe as die skuldige. Al leer beide Job 1 en 2 dat Job voor God ‘n regverdige was, laat val Bildad die lem van die valbyl reg op Job se nek: “God verwerp nooit die opregte nie” (8:20). Jy is dus nie die opregte wat jy jou voorgee om te wees nie, Job!
Soms is ek my eie Bildad; soms is ek so ongenadiglik hard op myself. Soms is ek die Bildad in ander se lewens: uitgesproke en veroordelend. Soms maak ek vir God my Bildad, asof God die ongenaakbare, ongenadige God is. Dan word God die Een wat gereed staan om te straf, die oomblik as ons ‘n voet verkeerd sit. Soos Job sou sê: “God sou my weer in ‘n modderpoel gooi, sodat my klere my tot ‘n aanstoot maak” (v31).
Was daar tog net iemand wat aan Job se kant sy saak by God kon bepleit het. Iemand “wat God se straf van my kon wegneem” (v33). Hoe graag sal ek nie vir Job (en vir Bildad) wou sê nie: daar is Een. Die enigste werklike Regverdige. Soos Johannes eeue later sou skryf: “As een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Joh 2:1-3).
GEBED: Dankie, Here, dat ek U op ‘n ander manier kon leer ken – die genadige en barmhartige!
MUSIEK:
Ons kyk na die liriekvideo van Matthew West se lied “Chosen”. Die liriek vertoon op die video.