INSTRUCTIO #21: ‘n HEMELVAART-POUSE

29 Mei 2025
INSTRUCTIO #21: ‘n HEMELVAART-POUSE

“Heilige afwagting”
“Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. ” (Hand 1:8)

Vreemd; ‘n mens sou dink dat Jesus van die dissipels sou verwag om – die oomblik dat hulle die sg. “Groot Opdrag” kry (in Matt 28:18-20) – soos atlete “uit die blokke” te wees. Daar is geen tyd te verspil nie. Die wêreld wag. Die dissipels se passie sou ‘n mens kon verstaan – immers weet hulle mos nou hul Heiland leef! Waarom wag? En tog, presies dit is die opdrag: wag.

Hoe ouer ek word, hoe meer leer ken ek die waarde van heilige “pouses”. Veral vandag, Hemelvaartdag, besef ons die geestelike betekenis van wag. Jesus se Hemelvaart is nie ‘n bloot ‘n vertrek nie; dit is sy verhoging na universele heerskappy aan die Vader se regterhand . Sy aardse verlossingswerk was voltooi. By die kruisiging het een van die soldate gespot met, “ As jy die koning van die Jode is… red jouself… ” (Luk 23:36). Veel meer as ‘n aardse koning, begin Jesus nou hier met sy hemelse bediening as Koning bo alle konings.

Hierdie opdrag om te wag herinner ons dat ons, selfs met ons diepste passie en beste bedoelings, eers in die Gees moet “wag” vir bemagtiging. Waar probeer jy vandag in jou eie krag gaan, in plaas van te wag op die hemelse krag wat die verheerlikte Christus jou belowe?

IN JOU GEBED vra dat God jou oë sal open om die diepte van Christus se hemelse heerskappy te begryp en jou met krag van bo sal beklee.


VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:
‘n Paar teksgedeeltes wat jy vandag kan naslaan om saam met hierdie dagstuk te lees, is:
· Efesiërs 1:19-23
· Filippense 2:9-11
· Hebreërs 7:23-28 .
· 1 Petrus 3:21-22


VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:

Ek speel vandag se musiek werklik vir myself, omdat dit my telkens bewoë laat. Hemelvaart is ‘n bevestiging van die pad wat Jesus geloop het tot by die posisie van Verhoogde. Daarom is dit ‘n goeie vraag: “Is He worthy?” Met die antwoord: “He is!”

Chris Tomlin (die komponis) tree hier op saam met ‘n massakoor en “The Master’s University Choir”.