28 Mei 2025
INSTRUCTIO #20: HOOR MET JOU HART
“Gehoor? Of gehoorsaam?”
“Wie ore het om te hoor, laat hom hoor ” (Matteus 13:9)
Herhaaldelike kere hoor ons hierdie woorde uit Jesus se mond: “ Wie ore het om te hoor, laat hom hoor .” Duidelik is dit meer as net ‘n frase. Hierdie is ‘n opdrag wat Jesus na ‘n profetiese uitspraak of gelykenis gegee het. As jy mooi hoor, gaan jy iets oor die Koninkryk van God snap – nie met intellek nie, maar met jou hart. As jy hoor wat jy moes hoor, sal niks ooit weer vir jou dieselfde bly nie.
Maar, daar is ‘n subtiele waarskuwing – in ‘n wêreld vol lawaai en afleidings, is dit maklik om Jesus se stem te hoor sonder om werklik te luister; meer nog, sonder om gehoorsaam te wees aan wat jy hoor.
Jesus praat van geestelike ontvanklikheid; ‘n leerbare gees; ‘n gewilligheid om gevorm te word. Dit is dus nie ‘n passiewe luister nie; dit vra dat ons ons oortuigings en ons lewens moet aanpas by dit wat ons hoor. Die toets is nie of ons die boodskap intellektueel verstaan nie, maar of dit ons harte binnedring, ons siel omvorm, en ons gehoorsaam maak aan die God wat spreek.
Het jy vandag ware ore om te hoor?
IN JOU GEBED vra God om vandag jou geestelike ore te open, sodat jy nie net sy Woord hoor nie, maar dit diep in jou hart ontvang en gehoorsaam.
VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:
Hebreërs 3:7-4:1 1 (veral 3:7-8 en 4:7)is ‘n waarskuwing wat ons nie ligtelik moet opneem nie, so ook nie Jakobus 1:22-25 nie.
VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS :
Ek het as ‘n universiteitstudent die Katolieke priester en musikant John Michael Talbot se musiek leer ken. Sy musiekloopbaan het in 1976 begin en sedertdien sing hy steeds pragtige musiek om ons in ons geloof tr versterk. Hier sing hy: “Open my eyes.”

