INSTRUCTIO #18: DINK VOOR JY VRA

26 Mei 2025
INSTRUCTIO #18: DINK VOOR JY VRA

“Vraag en antwoord”
“Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. …Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Lukas 11:9, 13).

Gebed is veel meer as om dinge uit God uit te kry. Gebed is eerstens ‘n uitspraak van geloof: God luister. Gebed is altyd die uitspreek van afhanklikheid: sonder U is daar geen hoop nie. Dit is net ‘n nederige mens wat kan bid: ek kan nie, net U kan. Daarom het die vroeë Christene gesê: “Ons vra met geloof, ons soek met hoop, ons klop met liefde.”

Miskien moet ons begrip van “vra” verfyn word. Johannes 16:24 wys op ’n dieper waarheid: “Tot nou toe het julle niks in My Naam gevra nie. Vra, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome mag wees.” Die uiteindelike geskenk wat Jesus belowe aan dié wat vra, is die Heilige Gees (Lukas 11:13).

Ons bring ons begeertes, ons struwelinge, ons diepste behoeftes, en lê dit voor Hom neer, met vertroue dat Hy hoor en antwoord op maniere wat ware heelheid (shalom) bring. Hierdie “vra” is ’n erkenning van ons behoefte aan God se teenwoordigheid.

Kyk mooi wat Jesus beloof: Hy gee nie net dinge nie; Hy gee Homself! Sy Gees. Dit is die uiteindelike gerusstelling, die wete dat God nie net na ons luister nie, maar ook intrek by ons lewe, en ons transformeer van binne.

IN JOU GEBED vra vir ’n hart wat God se wil kan hoor, vertrou en ontvang.


VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:
Drie sleuteltekse in die Nuwe Testament wat verhelderend is vir ons verstaan van gebed is Filippense 4:6-7, Jakobus 5:13-18 en Kolossense 4:2-4. Bestudeer hierdie gedeeltes veral saam met Jesus se woorde in Luk 11:9-13.


VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:

‘n Baie bekende meditatiewe Taize lied is vandag se keuse: “O, Lord, Hear my prayer.” Hierdie lied se melodie het die potensiaal om die ganse dag deur jou geneurie te word.