INSTRUCTIO #19: KLOP MET LIEFDE

27 Mei 2025
INSTRUCTIO #19: KLOP MET LIEFDE

Hoe lank is jy bereid om te staan en klop
“Vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word” (Matteus 7:8)

Ons vra met geloof, ons soek met hoop, en ons klop met liefde” (sien Instr #18). Die eerste twee is dalk verstaanbaar, maar wat beteken dit regtig om “ met liefde ” aan God se deur te klop?

Hierdie “klop” is nie ’n ongeduldige hamer teen ’n toe deur nie. Dit is die volgehoue klop van iemand wat verteer word deur liefde. Dis juis liefde wat ons laat pleit – soos ’n ouer wat sonder ophou bid langs ’n hospitaalbed. Só behoort elke gebed gebore te word: uit liefde vir God, en vir ander.

Wanneer laas het jou gebed só diep gevloei uit liefde – nie net vir antwoorde of uit plig nie, maar omdat jou hart bewus is van God se nabyheid en die nood van ander? Is jou vriendelike belofte – “ek bid vir jou” – blote retoriek? Of verskyn jy werklik voor God met ’n volgehoue, liefdevolle klop?

Wanneer ons aanhou klop, verander iets in ons. Liefde verdiep: die versoeke groei tot verhoudings. Dit is hoe ons meer soos Christus word, wat aanhou klop het – selfs tot aan die kruis.

Is jy vandag bereid om weer met liefde aan Sy deur te klop—nie vir antwoorde nie, maar bloot omdat jy Hom liefhet?

IN JOU GEBED: vra vir ’n liefde wat lank genoeg klop om God se hart te ontmoet.


VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE :
As liefde die dryfveer agter ons gebede is, dan begryp ‘n mens eers werklik waarom Jesus die metafoor van “klop aan die deur” gebruik in Openbaring 3:20 . Pleitend, kloppend, wagtend. So staan Jesus voor ons.


VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:
‘n Baie speelse lied (wat eintlik vir kinders bedoel is) bring ‘n glimlag om my mond. Dit is Herman Boon se “ Ik klop aan de deur ” (n.a.v. Openbaring 3:20). Ek hoop die kind in jou kan hierdie lied ook waardeer.