INSTRUCTIO #16: DIE GOUE REËL AS LEWENSWYSE

*22 Mei 2025*
*INSTRUCTIO #16: DIE GOUE REËL AS LEWENSWYSE*

> *“Wees meer as die minimum”*
> _”Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen_ .” (Matteus 7:12+).

Ek dink dit is ‘n baie redelike en billike beginsel om te verwag dat ‘n mens nie aan ander moet doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Dit is, helaas, nie wat Jesus se instruksies aan ons is nie. Jesus gee ‘n kinkel aan die “goue reël” – nie om die kwaad te vermy nie, maar om daadwerklike goedhartigheid te bewys aan jou naaste. Oorweeg werklik daardie dinge wat tot seën vir jóú sou wees, en doen dít dan vir hulle.

Dink aan die implikasies: om nie oor iemand te skinder nie, is gans anders as om doelbewus goeie dinge van hulle te sê. Of, om iemand nie te besteel nie, is wesenlik verskillend daarvan om na te dink oor wat iemand dalk nodig sou hê. En om dan nog uit jou pad te gaan om te help om hul las te verlig.

Dit is nie ‘n passiewe “leef en laat leef”-filosofie nie. *Hierdie opdrag van Jesus is werklik deernis-in-aksie!* Laat ons dus meer doen as om net die negatiewe te vermy, en laat ons die krag van aktief goed doen omhels.

*IN JOU GEBED* vra die Gees dat jy nie net die kwaad sal vermy nie, maar aktief sal uitreik in liefde en goedhartigheid.

*****

*VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:*
Twee teksgedeeltes illustreer Jesus se woorde baie goed: die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan ( *Lukas 10:25-37)* , asook *Jakobus 2:14-17* , wat beklemtoon dat ware geloof sigbaar word in dade.

*****

*VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:*

‘n Praglied vir alle koorliefhebbers: “O Herr, gib Frieden”. Die Engelse lirieke verskyn in die video. Dit is gekomponeer deur Dmitry Bortniansky en word uitgevoer deur die bekende Cologne Mannekoor.