INSTRUCTIO #15: ANDERS AS ‘N OOG VIR ‘N OOG

*21 Mei 2025*
*INSTRUCTIO #15: ANDERS AS ‘N OOG VIR ‘N OOG”*

> *Wang-wysheid*
> ” _As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie_ .” (Luk 6:29a)

In ‘n kultuur waar eer en status alles was, en waar ‘n belediging onmiddellik met gelyke of groter wraak beantwoord moes word, moes Jesus se woorde skokgolwe onder die skare veroorsaak het!

‘n Klap op die wang was nie bloot ‘n fisiese aanval nie; dit was ‘n doelbewuste daad van vernedering. Die aggressor wou sy teenstander se sosiale status voor ander verlaag. Wat Jesus hier voorstel, was om jouself vir ‘n dubbele vernedering beskikbaar te maak. Dit is mos irrasioneel!

Ja, dit is irrasioneel as wêreldse standaarde jou norm sou wees. Maar, *God se standaarde is ons norm.* En as Jesus Homself verneder het, nie net om meermale geslaan te word nie, maar om selfs as onskuldige gekruisig te word, dan daag Jesus ons uit om sy voorbeeld te volg.

Om die ander wang aan te bied, impliseer dat ons weier om beheer te word deur ons woede en die behoefte aan vergelding. Doelbewus kies ons teen die siklus waar geweld net nog meer geweld aanhits.

En hiermee wil Jesus ons ook leer dat ons waarde nie deur mense bepaal (of benadeel) word nie. Ons weet mos wie ons in God se oë is.

*IN JOU GEBED* dank God dat die Heilige Gees jou kan beheer, ook met die vrug van selfbeheersing, nederigheid en diensbaarheid.

*****

*VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:*
Bestudeer *Galasiërs 5:22-29* en *1 Kor 13:4-7* om jou groter begrip te gee hoe om met die gesindheid van Jesus in moeilike situasies op te tree.
Is daar situasies in jou lewe waarop hierdie gedeeltes vandag aanspraak wil maak? Hoe wil die Gees jou daarvoor toerus?

—–
*VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:*
‘n Baie bekende Afrikaanse gesang, “Praat ek mense engele tale” (gesing deur Lisbé Visser, Wanda de Kock en Jan de Wet) word in hierdie weergawe met Suid-Afrikaanse Gebaretaal aangebied. Dit is geplaas deur die Nasionale Institutuut vir Dowes.