INSTRUCTIO #17: RUIL DIE TELESKOOP EN DIE MIKROSKOOP

23-25 Mei 2025 (naweeknadenke)
INSTRUCTIO #17: RUIL DIE TELESKOOP EN DIE MIKROSKOOP

“Balke en brille”
Haal eers die balk uit jou eie oog, en dan sal jy goed sien om die splinter uit jou broer se oog te haal .” (Matteus 7:5)

Blitsvinnig is ons om ‘n mikroskoop uit te haal vir ander se kleinste foute, terwyl ons ‘n teleskoop gebruik om ons eie flaters mee weg te kyk. Die beeld wat Jesus hiervoor gebruik, wil ‘n mens bykans laat lag: ‘n dakbalk versus ‘n splinter. Watter een moet eerste raakgesien word? Het jy al ooit voor daardie spieëls gestaan wat jou beeld heeltemal verwring? Wat Jesus met hierdie opdrag wil doen, is dat ons die beeld moet sien soos die beeld in werklikheid is!

Hierdie neiging om ander se foute raak te sien, was veral duidelik in die optrede van die Fariseërs en skrifgeleerdes. Uiterlik het hulle so vroom voorgekom, terwyl hulle almal om hulle se misstappe met arendsoë dopgehou het. Maar voor ons te vinnig vreugde vind daarin dat Jesus die kerkleiers oor die vingers raps, moet ons dalk ‘n ongemaklike vraag aan onsself stel: loop ons nie dalk self met ‘n hele woud van balke in ons eie lewens rond nie?

Ons is almal feilbare mense, en juis daarom het ons nodig om met ‘n groter deernis in die skoene van ander rond te loop. Laat ons dus maar met ‘n sagte hart en sielvoller oë mekaar op hierdie onvolmaakte reis bystaan.
IN JOU GEBED vra die Vader om jou vandag met dieselfde deernisvolle oë jou medemens te laat aanskou as waarmee God na jou kyk.


VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:
‘n Uitbreiding op hierdie metafoor vind jy in Lukas 6:37-42. Lees dit gerus vandag ook saam met Romeine 2:1-11 waar die gevaar van skynheiligheid veral aangespreek word.


VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:

Ek was eintlik op soek na ‘n ander lied toe hierdie skakel ook verskyn. Ek bied dit vir iemand aan wat dit dalk vandag juis nodig het: “Uw Liefde”, gesing deur ‘n jong Nederlandse musikant, genaamd Marije.