INSTRUCTIO #14: DIE GROTER KRAG VAN VERTROUE

*20 Mei 2025*
*INSTRUCTIO #14: DIE GROTER KRAG VAN VERTROUE*

> *Liefde vir “onliefbares”*
> _”Vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word_ ” (Luk 6:27-28)

Selfbehoud is ‘n natuurlike reaksie – in gevaar veg, vlug of vries ons. Maar vir gelowiges is vertroue en geloof in God ons ware anker. Hierdie verhouding met God wil selfs ons oerinstinkte herbedraad. Dit is wat Jesus ons met hierdie opdrag leer.

Om te bid vir jou vyande, is nie net tot hulle voordeel nie, maar veral tot ons eie. Om ‘n wrok te koester, is ‘n onsigbare gif wat ons hele menswees vergiftig. Ons gedagtes word die slagveld waar die onreg oor-en-oor herleef word. Al ons energie word opgeslurp deur ‘n stryd waar daar geen wenner is nie.

Maar, wanneer ons kies om te bid vir diegene wat ons seermaak, verskuif ons fokus. Ons kyk weg van ons eie pyn, weg van die oortreder en die oortreding, na ‘n ruimte van genade. En waar genade seëvier, kom daar altyd nuwe perspektiewe.

*Mag vertroue in God dus sterker wees as jou veg, vlug of vries!*
….

*IN JOU GEBED* vra God om jou ‘n instrument van sy vrede te maak.

*****

*VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:*
Verdere teksgedeeltes wat op ‘n nuwe leefstyl fokus waar liefde vir die vyand heers, is *Romeine 12:14-21* en *1 Petrus 2:18-25*

*****

*VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:*

‘n Massakoor van 300 lede sing die bekende “Dona Nobis Pacem” saam met die Kaapstadse Kameratakoor. Mag dit vandag ook jou gebed wees.