*INSTRUCTIO #13: Jesus is ons bloudruk*

*19 Mei 2025*
*INSTRUCTIO #13: Jesus is ons bloudruk*

> *Inteendeel, inderdaad!*
> _”Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel._ ” (Rom 15:3)

Onlangs het ek met ’n paar tieners gesels oor Paulus se oproep dat ons dieselfde gesindheid moet inoefen waarmee Jesus geleef het (aldus Fil 2:5). In sommige Engelse vertalings staan daar dat ons met dieselfde ” _mind of Christ_ ” moet leef. Waarop een van die tieners reageer, “Wat Paulus eintlik sê is dat ons ‘default’ en Jesus se ‘default’ met mekaar moet ooreenstem.”

Dit is presies wat geloof in Jesus impliseer: *’n ganse “herbedrading”* van ons ou manier van dink en doen moet plaasvind. Selfs ons diepste ingeoefende patrone en gewoontes (waaroor ons gewoonlik nie eers nadink nie) moet *aan die bloudruk getoets word: Jesus.* Ons prioriteite moet voortdurend in belyning gebring word met Jesus se prioriteite vir ons. Ons “default” moet ‘n opregte besorgdheid oor ons medemens se welstand wees; m.a.w. ons moet dadelik skel alarms hoor loei as ons met selfsug optree. “Kontra-Jesus”, flits die rooi ligte in ons gemoed. Immers leer 1 Johannes 2:6 ons dieselfde: ” _Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het._ “

Die uitdaging is duidelik: *om ‘n lewe te lei waar ons onmiddellike ingesteldheid – ons “default” – onmiskenbaar die karakter van Jesus self weerspieël.*

*IN JOU GEBED* vra die Gees van Christus om jou lewe te herbelyn dat liefde en diensbaarheid ook jou lewe sal beskryf.

*****

*VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:*
*Filippense 2:1-11* is ‘n kernteks waarop hierdie nedenke geskoei is.

*****

*VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:*

Die webplatform, “Joy on White,” fokus op kerkmusiek o.l.v. klavierbegeleiding. Hier het ek ‘n weergawe van “May The Mind Of Christ My Saviour”, verwerk deur Lloyd Larson teëgekom, met pragtige sketse wat die lirieke komplementeer.