INSTRUCTIO #12: “Bly in My.”

*16-18 Mei 2025 (naweeknadenke)*
INSTRUCTIO #12: “Bly in My.”

> *Lewensap se Tapkraan*
> *”Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.” (Johannes 15:4)*

Van ons eerste woorde as kleuters is, “Ek kan self.” Ons wil ons eie mens wees. Ons eie ding doen. En tog is daar hierdie waarheid wat dwarsweg kom staan voor ons eiesinnigheid: *sonder Jesus kan ons niks doen wat werklik blywend is nie*. Sonder die konstante vloei van Sy lewe in ons, is al ons pogings vrugtelose illusies.

Hierdie besef bring ‘n onverwagte rus. Die oorweldigende druk om alles self te beheer, om krampagtig ons eie sukses te bewerkstellig, verdwyn. In plaas daarvan word ons uitgenooi om te erken, elke goeie daad het sy oorsprong in Christus. Sy teenwoordigheid is die vaste anker wat ons stabiel hou te midde van die storms. Sonder hierdie konstante verbinding is ons soos ‘n afgesnyde tak – ons mag dalk ‘n tyd lank groen lyk, maar uiteindelik sal ons verdroog.

* Put ek my krag uit die Lewensbron, of soek ek dit vergeefs elders?
* Bou ek my sukses op Sy fondament, of op die sand van my eie vermoë?
* Vind my identiteit rus in Hom, of probeer ek ‘n geïsoleerde koninkryk bou wat sal val?

Mag die stille uitnodiging van Jesus ons kompas wees: Bly. In. My.

*IN JOU GEBED* vra die Heilige Gees om jou te lei tot ‘n intiemer verbintenis met Jesus, die Bron van ware lewe en vrugbaarheid.

*****

*VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:*
Die gebed van Paulus in *Efesiërs 3:14-21* kan saam met *Johannes 15:1-8* gelees word. Wat beteken dit vir jou om “gewortel en gegrondves” te wees “in Christus.” *Kolossense 2:6-7* belig ook die gedagte van “gewortel in…”. Wat neem jy uit hierdie teksgedeeltes as die boodskap wat die Gees vir jou spesifiek gee?
*****

*VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:*

Die musiekkeuse vandag is dalk nie so gepas by die dagtema nie, maar Kaoma Chende is een van my gunsteling vier-stemmige solosangers. Ek verwonder my altyd wat hierdie man met sy stem kan doen! Hier sing hy “Sinner saved by Grace.”