INSTRUCTIO #11: VERTROU VREESLOOS VANDAG

*15 Mei 2025*
*INSTRUCTIO #11: VERTROU VREESLOOS VANDAG*

> *Jou Anker Teen Angs*
> *“Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer.” (Matteus 6:34a – 2020 vertaling)*

As jou beursie en jou kaste vol is, is dit seker maklik om jou nie oor môre te bekommer nie. As jy werk het, as jou geliefdes veilig is, as vrede om jou heers; ja, dan kan hierdie opdrag van Jesus nog verstaan word. Maar, gevare is tog ‘n realiteit. Swaarkry ook. Is hierdie nie maar net nog een van die “onrealistiese” dinge wat jy Sondae van die preekstoel af hoor, terwyl jy weet dat die realiteit van die “regte” lewe anders lyk nie?

*Jesus gee nie ‘n opdrag sonder ‘n anker nie. Die anker is ‘n Vader wat sorg.* Om God se wil jou kompas te maak (sien #10), gaan van jou geloof in die getrouheid van God vra. Is jy regtig bereid om God te vertrou?

Om nie oor môre besorg te wees nie, is nie ‘n verskoning vir passiwiteit nie. Dit vra van jou ‘n aktiewe besluit om vandag voluit te leef. Sonder vrees. Omdat jy werklik God vertrou.

Dit konfronteer my en jou met hierdie vraag: waar plaas ons ons fokus – in ons eie (beperkte) lewenskrag, of in die onbeperkte getrouheid van Jesus se woorde (sien #8) wat waar is: ” _Aan My is gegee alle mag … en Ek sal by julle wees…_ “

*IN JOU GEBED* – vra God om jou geloof en vertroue so te versterk dat jy vandag reeds met hoop kan leef.

*****

*VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:*
Dawid skryf ‘n gedig *(Psalm 55)* waarin hy sy eie bekommernisse verwoord, en dan by ‘n gevolgtrekking uitkom in Psalm 55:23.
Die wyse waarop ‘n kommervrye lewe geleef kan word, word in *Filippense 4:6-7* en ook in *1 Petrus 5:7* beskryf.
Dit is dus ‘n daaglikse geloofsoefening om elke bekommernis ‘n naam te gee, en dit dan na God te neem.

*****

*VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:*

Ek het na etlike weergawes geluister van die pragtige lied (gekomponeer deur Joel Raney): “ *Just a closer walk with thee* ”. Daar is werklik pragtige koorverwerkings. En tog, toe ek hierdie weergawe luister, het ek dadelik ‘n glimlag gekry en met my voet die ritme begin trap. Gans en al anders as my gewone musiekkeuses, maar mag dit vir iemand ook vreugde bring. Dit word uitgevoer deur ‘n groep by name “Alabama”.