“Moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar (word) verander deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.” (Rom 12:2, 2020-vertaling)
Die Kanadese skrywer, Edward Dahlberg, het eenmaal gesê, “Op 19 was ek vir myself ‘n vreemdeling. Op 40 wou ek weet, ‘Wie is ek?’ Op 50 moes ek tot die gevolgtrekking kom, ek sal nooit weet nie.” Ek dink Dahlberg het waarskynlik te vinnig moed opgegee. Dit vra waagmoed om eerlik na jouself te kyk. Dit vra selfs groter eerlikheid om jou eie blindekolle en skadukante te erken. Dit vra nederigheid om te erken dat jy nie altyd is wie jy voorgee of dink jy is nie. Maar, die een ding wat ons nooit hoef te doen nie, is om moed op te gee om die mens te word wat ons bedoel is om te wees.
Daar word vertel dat een van die gelowiges van die vroeë eeue, Vader Lot van Egipte, sy spirituele versorger besoek het vir raad: ”Vader, ek vas soveel ek kan, ek bid so lank ek kan, ek probeer om geen onrein gedagtes te dink nie. Wat kan ek nog doen?” Die ou geloofsvader het opgestaan en sy hande opgelig na die hemel toe. Skielik het al tien sy vingers soos vlammende kerslig begin gloei. Toe antwoord hy: “As dit jou begeerte is, kan die Heilige Gees van jou ‘n vurige vlam vir God maak.”
Johannes Calvyn, die Gereformeerde teoloog, het ‘n uitgestrekte hand met ‘n gloeiende hart daarin as embleem gekies. Onderaan is geskryf: “My hart, asof ‘n brandoffer, gee ek aan U. Sonder huiwering en opreg.” Presies soos Paulus ook leer: “(Stel) julle liggame beskikbaar as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens.”
Dit is nie ons vingerpunte wat moet gloei nie; dit is Godsliefde wat moet vlam vat. As dit jou begeerte is, natuurlik…
GEBED: Dit ís my begeerte, my Here.
MUSIEK:
Jennifer la Mountain is die solis wat die skrifberyming van Romeine 12:1-2 sing, soos dit opgeteken is in die King James Bybel.