“Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag.” (Eks 3:11)
Wanneer God in die aandwindjie (in Genesis 3) stap en Adam en Eva soek, is die beeld wat by my opkom die van ‘n “Eensame God”: “Waar is jy?” Dit is so anders as wat ‘n mens seker van die Skeppergod sou verwag. God kon hulle mos net afskryf en oor begin? Maar God is die soekende God. Dink ek aan Jesus wat aan die kruis tussen hemel en aarde hang en uitroep, “My God, my God…” kom dieselfde beeld van die eensame God, broos en gebreek, weer by my op. God is so gans anders as wat ons verwag!
Eksodus 3 roep weer ander beelde by my op. God is die God van verrassings. God kon mos net uit die hemel gebulder het, maar God praat vanuit ‘n bos. Gelyktydig is God die God van die bonatuurlike; die buitengewone. Moses noem die brandende bos ‘n “wonderlike verskynsel” (v3).
Maar, God is veral die God van die gewone: dit is nie in die prag en praal van ‘n hemelhoë katedraal, of die allerheiligste van ‘n tempel waar God vir Moses ontmoet nie; dit is sommer so, oop-en-bloot; in stof en sand, tussen skape. Dit is so alledaags. God kies ook nie die buitengewones nie – inteendeel; God kies soms hulle by wie óns juis sou verbygaan: ‘n voortvlugtende moordenaar, hakkelend daarby, wat ‘n volksleier word. Die vreemde God: wat ‘n jong tiener kies om een van die grootste profete te word (Jer 1:5-8). Vissers wat gestuurdes word (Mark 1:16-17). ‘n Christenvervolger om gemeentes te plant (Hand 9:1-19).
Vandag gaan waarskynlik maar vir ons almal alledaags wees. Ons almal is sekerlik ook maar net gewoon. Maar dalk kruis jou pad vandag die van die God van verrassings sodat God, deur jou, die buitengewone kan doen.
GEBED: Laat ek U tog herken in die gewone en dit nie verbygaan nie, Here.
MUSIEK
Vandag luister ons na een van my gunsteling sg. “Negro Spirituals” – We’ve come a long way, Lord. Dalk is die lied nie 100% van toepassing nie (alhoewel ek tog glo dit is), maar ek wil dit graag vir jou gee, omdat ek nooit genoeg kry om daarna te luister nie. Hier word dit uitgevoer deur die Menonite Oasis Chorale.