ADVENT ‘24, Vrydag/Saterdag, 6-7 Des.
WEEK 1 – HOOP
Op my spieëltafel pryk ‘n veer – sterk, spierwit, buigbaar. Ek is nie ‘n voëlkenner nie; maar hierdie veer herinner my aan Emily Dickenson se gedig wat so begin: “Hope is the thing with feathers.”
As dit dalk ‘n donsveertjie was, sou ek kon dink dat hoop vir Dickenson pieperig was. Broos. Maar nie hierdie veer nie! Dit is ook nie hoe Dickenson die metafoor gebruik nie. Sy beskryf ‘n voël wat storms moet oorleef; met sterk vlerkspiere; buigbare vere. Letterlik en figuurlik: veerkragtig.
Hoop is die lewegewende krag wat ons oplig wanneer ons deur stormweer platgedruk voel. Kragdadige hoop laat ons “vlieg” – ons kan met ‘n nuwe perspektief na die lewe begin kyk. Bittereinder is die voël wat nog sy laaste lied sing – só is hoop vir Dickenson.
Op dieselfde wyse gebruik Paulus vir Abraham, die aartsvader, as ‘n voorbeeld in Romeine 4:18: “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo.” Geloofgevulde-hoop – die een kan nie los van die ander nie. Al wat Abraham gehad het was ‘n belofte: soos die sterre, so sal jou nageslag wees. Daaraan het hy vasgehou.
Hoop rus uitsluitlik op God se beloftes. Daarom dat ons sê, Bybelse hoop is ‘n gewaarborgde hoop. Daarby sou ons kon voeg, al wat nodig is, is om – soos Abraham – nie in ongeloof te begin twyfel aan die belofte van God nie, maar om met versterkte geloof aan te hou om aan God die eer te gee (4:19).
Wanneer ek na die veer op my spieëlkas kyk, weet ek: “Hoop is om ten volle daarvan oortuig te wees dat God mag het om te doen wat Hy beloof het” (4:21).
GEBED: Dankie dat U die beloftes gee, maar dat U ook die hoop vestig deur die gawe van geloof. Dankie dat hoop genade van U is.
MUSIEK:
Ons kyk na ’n musiekvideo van die Reebok Gemeente se koor as deel van hulle Kerssangdiens met “Ons Vertel Die Storie Van ’n BabaSeun”.