ADVENT ‘24
WEEK 1 – Sondag, 1 Des.
“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom 15:13)
**
‘n Gebed wat gebid word by die aansteek van die eerste Adventskers:
“Steek in ons hart die vlam van hoop aan, terwyl ons nou die Adventskers van Hoop aansteek.”
(Kers kan aangesteek word, waarna gebed voortgesit word.)
“Mag U hoop helder en onblusbaar in ons brand.
Mag die vlam van hoop skuilte bied vir almal wat hoopverlore is: beskerm die hulpeloses; begenadig die ontheemdes; vertroos die bedroefdes.
Steek ook in hulle die vlam van hoop aan om met hernude krag en toewyding vanuit U hoop te leef; soos U dit ook vir my doen.
Bron van hoop, versterk ons geloof; vul ons met heilige blydskap en skenk aan ons die vrede wat verstand te bowe.
Hou ons gevange onder die krag van die Heilige Gees wat hoop in ons bewerk. Versterk ons met die hoopvolle sekerheid dat U dit enduit sal volvoer wat U begin het.
Mag ons deur U Gees ‘n weerspieëling wees van U liefde en genade in die wêreld.
Ons plaas ons hoop en vertroue in U, die God wat alle dinge moontlik maak. Nou en vir ewig.”
MUSIEK:
Ons luister vandag na die Praise And Harmony Singers se Acappella weergawe van Phil Wickham se lied “Living Hope”.