ADVENT ‘24, DINSDAG, 10 Des.
WEEK 2 – VREDE
Die Hebreeuse naamwoord “Yohanan” ken ons in Afrikaans as “Johannes”. Yohanan is ‘n verkorting van “Yaho” (Jahwe/Jahowa) + “hanan” (genade). Johannes beteken dus “God is genadig”.
Dit was die naam wat Sagaria en Elisabet hulle seuntjie genoem het: God is genadig (Sien Luk 1:14-17). Hierdie neef van Jesus sou die laaste profeet wees om te getuig van die Een wat “Soos die môreson sal opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede” (1:78-79).
Is dit nie wie óns inderdaad is nie: mense wat “in die skadu van die dood lewe”? Van stof is ons en tot stof keer ons terug: gebore om te sterf. Daar kan nie iets ergers wees as om hierdie kort bestaanstyd boonop in totale duisternis te leef nie. Presies dit is wat vervreemding met God beteken: duisternis.
Ons dink soms aan sonde as die dinge wat ons verkeerd dóén – ‘n fout waarvoor ons “jammer” kan sê. Dit is nie! Sonde is ‘n toestand, so erg dat dit totale skeiding met God impliseer.
En hier word die profeet met die naam “God is genadig”, die aanwyser na die Verlosser wat gebore is. “Lig uit Lig” – om die oggendson vanuit die hoogte op ons af te straal. Die duisternis verdwyn. Ons voetstappe kan die “pad van vrede” stap.
Is ons eerste gedagte – wanneer ons oor vrede praat – nie om te dink aan vrede tussen die nasies wat oorlog maak nie? Dit is nie regtig vrede nie. Noem dit eerder wapenstilstand. Daar kan net een vorm van vrede wees: wanneer vrede tussen mens en God kom.
Dit is waar gedagtes oor Adventsvrede moet begin. Dit is waarvoor die Verlosser gekom het.
Gebed: God van genade, dankie dat ek in die gloed van U oggendson mag leef.
MUSIEK:
Ons kyk na die lirieke video van “Good Grace” deur Hillsong United.