WOENSDAG, 11 Desember

ADVENT ‘24, WOENSDAG, 11 Des.

WEEK 2 – VREDE


Van alle oorloë het
die Tweede Wêreldoorlog die grootste menseverlies gely: 3% van die ganse wêreldbevolking is in 5 jaar uitgewis. Die Eerste Wêreldoorlog (wat toevallig beskou was as die oorlog wat alle oorloë sou beïndig het) se sterftesyfer word bereken op 20 miljoen. Wat dit nog slegter gemaak het, is dat die terugkerende soldate die 1918-griep oor grense heen versprei het, wat sterftes tot by 50 miljoen veroorsaak het. Derde op die lys was die Russiese Burgeroorlog met ongeveer 13.5 miljoen sterftes.

Deesdae praat doemprofete van ‘n sluimerende WO-III. Het die engele dan nie daardie aand van Jesus se geboorte die vredeslied van alle tye gesing nie: “Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God ‘n welbehae het” (Luk 2:14).

Hoe moet ‘n mens hierdie teenstrydighede met mekaar probeer versoen?

Die Hebreeuse woord “shalom” is ‘n vreemde woord. Dit is nie die afwesigheid van konflik nie, want afwesigheid daarvan impliseer nie vanselfsprekend die volkome herstel van die eens gebroke verhoudinge nie. En dit is wat shalom is: die volkome herstel van alles wat gebroke was!

Shalom impliseer ‘n eenheid tussen God, onsself en ander. Bybelse vrede maak die onmoontlikste onmoontlike moontlik: vyande word geliefdes. Of soos Jes 11:6-8 dit verwoord: “Wolwe en skape sal saam bly; luiperds sal tussen bokkies lê …klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange”. Die onmoontlike gebeur.

Die doel van Advent is om in ons die diepste verlange na hierdie soort vrede aan te wakker. Hoe groter jou smagting, hoe gretiger begin jy soos ‘n shalom-mens leef. Met ander woorde, soos Jesus.

Martin Luther King het gesê: “Be the peace you wish to see in the world.” Die Hebreërskrywer sou saamstem, want hy leer ons: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe…” (Heb 12:14).

GEBED: Heilige Gees, maak die onmoontlike ook in my lewe moontlik.

MUSIEK:

Ons kyk na die musiek video van “Peace Be Still” deur The Belonging Co en Lauren Daigle.