Week 2 – Wag in vrede
>
– “Vrede laat Ek vir julle na … Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” – Johannes 14:27
>
– Wêreldse vrede word onderhandel; God se vrede word gegee.
Die wêreld se vrede is meestal ‘n weergawe van die destydse Pax Romana (“Vrede van Rome”): die een met die meeste mag is die een wat die “vrede” bepaal. Hierdie vrede is eerder net ‘n wapenstilstand. Dit bied dalk vir ‘n ruk ‘n politieke stabiliteit; maar, soos die idioom lui, “onder draai die duiwel rond.” Die een wat oorwin het gaan weldra sy eie spiere weer begin bult.
Jesus sê egter Sy vrede ( “eirēnē” in Grieks, en “shalom” in Hebreeus) is anders; dit is ‘n gawe wat ons ontvang, onafhanklik van die chaos buite. Om hierdie vrede te ontvang, moet ons eers ons strewe na beheer prysgee. Vrede met God is reeds verseker (Romeine 5:1), maar die vrede van God (die innerlike belewing) moet daagliks aanvaar word. Die kuns van wag is om ons harte, te midde van angs en onsekerheid, doelbewus oop te stel vir hierdie bonatuurlike gawe. (Sien Johannes 16:33.)
>
– Wat is die grootste oorsaak van onrustigheid in jou lewe vandag? Kan jy hierop bely: “Ek aanvaar Jesus se Vrede het groter gesag as my ontsteltenis.”
>
Here Jesus, U is my Vrede. Ek gee my reg op om die wêreld te beheer. Vul my hart met daardie onverklaarbare kalmte wat net U kan gee.

